Dinki se Wereld                                                                            
 

Dinki - Vrou, Ma, Suiwelboer.

 My gesin en my plaas, met al sy diere (behalwe die rotte, vliee, en grondeekhoringplaag) is my passie. Ons droom van 'n top-Jerseystoet, van kwaliteitmelk, van 'n plaas waar ek verantwoordelik is vir die diere, Jon vir ploeg-en-plant en masjienonderhoud, Firn haar perde en honde teel en genoeg tyd oor het om te skryf, en Rain balletklas gee in die dorp maar ook 'n klein gastehuis-en-spa op die plaas bedryf. Van 'n kwaliteit-lewe waar ons hard werk, ons diere altyd goed versorg is, maar ons nog genoeg tyd vir mekaar het. En ons jaag daardie droom - hard.

Ons tuisonderrrig en ek glo in 'n ma of pa wat tuis bly, by die kinders. Ek glo nie in kinders aflaai soggens vroeg en oplaai smiddags laat nie. Ek glo in gesinsetes, drie maal per dag, met die pa wat minstens een maaltyd per dag saameet. Ek glo in gentleness, en daarom is ek getroud met 'n gentle man. Harde woorde val nie sommer maklik in ons huis of op ons plaas nie.

My Jon, my groot, sagte Engelsman, het my lewe omgedraai en tussen ons le hope liefde en enorme respek. Ons glo nie in 'n vaste rolverdeling tussen Ma-en-Pa nie en benewens sy harde werk aan sy rekenaarbesigheid en op die plaas, kook hy dikwels kos, versorg die kinders, en was selfs skottelgoed, terwyl ek buite op die plaas spook. Sy hande staan vir niks verkeerd nie, en hy is die een wat nie net alles wat op die plaas breek regmaak nie, maar ook gordyne maak en balletskoenlinte aanwerk. En Jon kla dat ek darem moet byvoeg: PS, hy kan ook sweis.

Firntjie is my plaaskind, my leser en dromer. Sy's 'n tomboy en 'n fees van 'n kind. 'n Harde werker sonder 'n lui haar op haar kop en my regterhand op die plaas. Sy's die enigste een wat binne-aars kan spuit, sy ent sommer 40 kalfies na mekaar sonder moeite, en sy en haar merrieperd, Skye, ry die plaas plat. Firn is 'n skrywer wat haar eie boeke illustreer en sy leef in haar eie, wonderlike, wereld. 'n Sonkind vir wie die lewe net magic is.

Genadiglik het ek ook 'n dogtertjie-dogtertjie saam met wie ek die fyner dinge kan waardeer. Raintjie is lief vir ballet, vir linte, strikkies, rokkies en fyn porseleinkoppies. Sy borrel oor van liefde wat sy mildelik oor ons almal strooi, en sy bederf ons almal met masserings en die heerlikste gebak.

Meeste mense weet dit nie, maar die dogtertjies het ook 'n 'boetie'. Apollo is my skaduwee-hond, altyd daar, as ek stop 'n nat neus in my hand en net 'n stertswaai ver. Hartstogtelik lief vir water en swem in ons gronddam en krippe, en ken 'n bakkiesleutel. Hy is mal oor bakkie ry; voor by my of agterin, met sy skewe oor wat komieklik wapper in die wind.

Ons huis is een van harmonie en lag; van die buitekant binnetoe bring as ons nie buite kan wees nie, waar al ses honde welkom in die huis is, waar die saals en tome die huis vol le, waar ons mekaar onvoorwaardelik liefhet en ondersteun. Waar ons saam werk aan ons drome.

Kom kuier gerus 'n bietjie.

 

 

 

You can place news, pictures or advertisements here