HYDEAWAY - Dinki se Spoegblok

Home

Sat, 22 Nov 2008 16:21:01 +0200:Die Week Wat Was

Thu, 3 Jul 2008 18:09:59 +0200:Enkelma's


Ek weet werklik nie hoe enkelma's dit regkry om hulle kinders alleen groot te maak nie.
Die afgelope rukkie is Jon baie weg van die huis af met werksverpligtinge en boerjan-vergaderings. En ek en die kinders voel dit erg. Firn gaan darem nog min-of-meer OK aan, maar Rain ontwikkel (soos dit vir my voel) duisende geheimsinnige siektes of seerplekke wat kom-en-gaan soos die dag aangaan. Natuurlik probeer ek oorkompenseer vir Die Pa se afwesigheid, en dit maak my nog moeer, nie dat ek nie al klaar moeg is weens die ongereelde ure wanneer Jon tuiskom nie.
Ons nuwe plaasnaambord, deur Afgri geborg, het vandag op die plaas aangekom. Dis 'n groot, volkleur bord met ons logo, asook "HYDEAWAY JERSEYS" en "THE HYDE FAMILY" en "NAMES NOT NUMBERS" op die bord. Die Afgri-logo is genadiglik klein.
Gister het ek en die dogtertjies gaan koffie drink en koek eet by 'n tuisskool-seuntjie wat 9 jaar oud geword het. Hy is dus net so oud soos Rain, en sy boetie is 'n jaar jonger as Firn. Die vier het 'n hond uit 'n bos gespeel. Firn het 'n nare ekseem ontwikkel, en ek is seker dis rooi kleursel wat dit veroorsaak - hulle het een of ander bose rooi gaskoeldrank gedrink. Dus sal ons van nou af baie versigtiger wees met wat sy by maatjies drink of eet. Hier by ons is haar kanse skraal - ons het nou ontdek daar is 2 "E" nommers op All Gold se tamatiesous, wat daar nooit tevore was nie. Jon het summier vanmiddag hier ingestap met 'n yslike kis tamaties - vir tamatiesous uit die Kook en Geniet maak. Daar gaan my laaste vakansiedag, wat more is! Gelukkig dreig hy darem nog net met die Skaapkop-en-pootjies resep uit die Kook en Geniet; gaan lees dit bietjie, dis quadruple gross.


Wed, 2 Jul 2008 10:36:21 +0200:Weer probeer


Hoe dit gebeur, weet ek nie. Ek kyk weer, en skielik het ek vir weke lank nie geblog nie. Die roetine waai net eenvoudig by die deur uit. Miskien het dit iets te doen met my nuwe gunsteling-tydverdryf: voor die koolstofie sit elke aand. Die rekenaar is aan die anderkant van die vertrek, en dis net te koud daar ...
Ons hou vir 2 weke skoolvakansie. Ek benut die ekstra tyd om 'n bietjie langer te rus in die middae; ek doen my middagadminwerkies in skooltyd. Op die plaas het ons 'n besige tydjie agter die rug met 7 koeie wat binne ongeveer 2 weke gekalf het. Dis ons eerste kalfies van ons 'nuwe' bul Moonshot, en hulle is almal, met die uitsondering van Ogies, verskriklik mooi bont. Hulle name is (in volgorde van geboorte) Mercury uit Mermadia, Out-in-front uit Oreo, Backwards uit Beauty, Lilly uit Line, Niggie uit Nooientjie, Ogies uit Olive, en Spot On uit Shadow. Mercury en Backwards is bulkalfies, en die res is genadiglik versies.
Ek kan nie onthou of ek al oor my nuutste speelding, my twee-keer-'n-dag se stal SMS, geskryf het nie. Te danke aan Jon kry ek na elke melking 'n outomatiese SMS met die volgende inligting: enige beweging in elke individuele koei se produksie wat groter as 'n sekere persentasie is (meer melk of minder melk); indien daar geen produksie by 'n koei ingesleutel is nie; die vorige dag se ooreenstemmende melking se totale produksie; die betrokke melking se totale produksie; die totale produksie vir die afgelope 24 uur; die stalgemiddeld; hoeveel koeie onderskeidelik in melk, droog, en in die opstoomfase is, en die top-koei vir die afgelope twee melkings.
Ons hou ook nou elke Vrydagaand 'n bestuursvergadering waartydens ons die afgelope week se finansiele inligting, voorraadvlakke, werkers se take, ensovoorts bespreek. Die dogtertjies woon ook die vergaderings by en maak beurte om die Excel spreadsheet met ons finansiele- en voorraadinligting te interpreteer. Soms beteken dit die vergaderings is lank en uitgerek, maar hulle leer ontsaglik baie oor besigheids- en finansiele bestuur - op 'n lekker konkrete manier.
Hoogtepunte uit die dogtertjies se afgelope paar weke is Wiggle Waggle Walk langs die Vaalrivier met 5 honde (Firn - Flower en Hope, Rain - Whiskey, Ek - Apollo, en Jon - Amigo), en 'n hele horde verjaarsdagpartytjies, te veel om op te noem. Rain het ook vir vakansiewerk 'n halfdag by Little Showcase gewerk (sonder betaling!) en dit baie geniet. Vir Firn gaan ons probeer reel dat sy gedurende Dr Louis se spreekure een middag ook by hom werk.
Jon is baie besig die afgelope twee-of-so weke en min by die huis. Ons mis hom baie, maar is ook bly oor die werk, wat broodnodig is. Dit gaan maar broekskeur finansieel met die melkery, soos gewoonlik, so ons kla nie oor die rekenaarwerk, wat die gesin, die koeie, en die werkers moet onderhou nie!


Fri, 9 May 2008 06:25:44 +0200:Besige tye vir Hope


In gister se Heidelberg-koerantjie is daar 'n foto van Hope en Firn, besig met die verspring-item by die hondeskou. Firn is hoogs in haar skik dat sy die koerant gehaal het (en hierdie keer is dit beter nuus as die vorige, na ons plaasaanval, toe daar na haar verwys is as 'Meisie (8)'. Ons het haar 'n paar weke daarna nog 'MeisieAg' genoem).
Gisteroggend, egter, was dit nie sulke goeie nuus nie. 'n Gogga (vermoedelik 'n by) het vir Hope op haar lip gesteek en haar hele kop het verskriklik opgeswel. Ek't Dokter Louis gebel, en hy beveel 1 cc Predef (kortisoon) binnespiers in die nek in. Firn bied, tot my verligting, aan om Hope te spuit, maar toe dit by die doen kom, trek sy kortkoppie. Ek moes haar dus spuit - nog 'n eerste vir my, om 'n hond in te spuit, maar tot my verligting is dit makliker as om deur 'n koei se dik vel te spuit. En gisteraand was Hopey reeds baie beter, en vanoggend is sy doodreg. Arme Firn se stresvlakke was deur die dak. Sy't dus slegs Wiskunde gedoen (voor Hopey begin opswel het), ek't haar Rescue-druppels ingejaag, en die res van die 'skooldag' was dit net ek & Rain.
Ons het 'n paar bladsye in haar nuwe boek gelees - so om die beurt - en Rain het 'n paar cowboy-worksheets gedoen. Sy't my totaal verstom met die wordsearch; ek dag dis vrek moeilik, maar sy't dit maklik reggekry!
Gistermiddag het ons gaan eet by 'n kwekery en daarna rondgedwaal en na al hulle plante en koi's gekyk. Dit was lekker rustig; net die regte medisyne na die emosionele, besige oggend.
Die balletjuffrou het my eenkant geroep en kommentaar gelewer oor die dogtertjies wat so goed onthou. Sy wonder of dit is omdat hulle nie honderde, herhalende bevele kry soos skoolkinders nie; ek dink dis dalk 'n kombinasie van tuisonderrig en genetika - hul Oupa Tom is regtig geniaal. Maar toe ek dit aan Jon noem, is hy hoogs disgusted - dit sou mos nie 'n generasie geskip het nie, dit kom eerder direk vanaf hom, aldus Jon.
Gisteraand het vriende onverwags ingeval vir koffie en gebly vir Nando's. Skuus oor die cholesterolvlak vir Jon, maar so lekker gekuier rondom die kombuistafel. Net: ek mis my man. Hy't hier aangekom nadat die vriende reeds hier was, en toe hulle gery het, het ek gebad en dadelik geslaap.
Die dogtertjies doen nog steeds hul Wiskunde vroegoggend, en dit werk op die stadium heel goed; ek hoop dit hou so aan. Raintjie doen ook 'n les 'n dag. Ook maar goed Firn doen dieselfde, anders sou haar sussie haar wel gou ingehaal het. Ook Narnia en 'n koerant vir laerskoolkinders gedoen vandag.
Vandag was bakdag, en ek en Rain oefen resepte vir haar Wilde-Weste partytjie. Ons het vandag cornbread gemaak, en dit was 'n groot sukses - ek moes Firn omtrent met 'n sweep daar weghou - mens bak dit in 'n muffinpan, en Firn het net mooi 4 op 'n ry ingeryg.
Ons het ook vandag ons eerste geregistreerde bulletjie verkoop om op 'n ander plaas te gaan werk - Braveheart, uit Bontrok (eintlik Manhu MMP May) en Jake (Haystack Mo Jake). Ek was maar erg bekommerd oor hom; het hom sommer 'n skoot antibiotika gespuit en vir bosluise behandel, om seker te maak hy's OK.


Tue, 6 May 2008 19:43:14 +0200:Roetine is goed


Hoera! Na al die vakansiedae is ons vir 'n verandering weer terug in ons bekende ou roetine, en ek voel heelwat beter.
Skool het ook weer begin en Maandag was daar trane van Firn se kant af, want ek't haar gevra om van nou af 'n hele les Wiskunde vier dae 'n week te doen. Een van die probleme was dat daar 'n paar foutjies ingesluip het by vandag se werk, maar 'n hele les is nogal lank! Ongelukkig is sy nou by les 75 van 120 lesse in Graad 4, so sy is 'agter' en ek voel sy moet 'n bietjie uithaal en inhaal.
Na Wiskunde het ons 'n fotosessie gehad. Ek het Rain oortuig om 'n Wild West-tema te kies vir haar 9de verjaarsdag (my eie onvervulde kinderdrome - ek was cowboy-mal, maar jong, my ma-hulle het nie geglo in verjaarsdagpartytjies nie). Ons het herfs se Your Child tydskrif gebruik as inspirasie en 'n Wanted Poster, wat dien as uitnodiging, van hulle webwerf afgelaai. Hier kom 'n foto van Rain in, en ek't vir haar twee vlegsels gemaak, 'n cowboy-hoed opgesit, en 'n hele klomp foto's van haar en haar perd, Rivr, tussen ons pas-afgelewerde en baie duur oulandsgrasbale geneem.
Na die fotosessie was dit ballet oefen, en daarna was daar geen meer tyd oor vir skool nie. Ballet was lekker; ek en 'n ma wat so pas haar 5-jarige dogtertjie uit Graad R gehaal het en begin tuisskool het, het land en sand gesels. Ek mis werklik die interaksie met ander tuisskoolouers en dit was 'n heerlike 40 minute.
O ja, net voor ballet het arme Elite, wat Sondag melkkoors gehad het, dit weer opgedoen. Ek't haar 6 inspuitings in die nek gegee, en 'n vloeistof-kalsuimaanvulling daarby, en erg na kalsium geruik by ballet. Ek hoop maar die ander ma's dink dis 'n eksklusiewe parfuum!
Dinsdag breek aan en weereens is ek 5-uur buite om te gaan kyk of Elite OK is, en of Nijinski al gekalf het. Wel, Elite WAS OK, en Nijinski het vanmiddag so 12-uur se kant uiteindelik gekalf - 'n versie, genaamd Nerina. Baie spesiaal vir ons, want Nijinski was ons eerste geregistreerde kalfie wat op ons plaas gebore is; dus die eerste een met die 'Hydeaway' voorvoegsel.
Jon het vandag tuis gewerk, en uitgehelp met die Wiskunde. Vroeg-vroeg, net voor 8, het Firn 'n hele Wiskundeles kafgedraf. Ons wil dus nou eksperimenteer met Wiskunde-doen vroeg in die oggend, so voor 7 begin en 07:30 is Firn klaar en gereed vir kalfies oplei vir die skou. Een probleem met die plan is dat dit 'n baie besige tyd van die oggend vir my is, maar ek gaan my bes probeer om uit te help waar nodig. Dis so lekker as ons aan ontbyt-tafel sit en 'n klomp skoolwerk is reeds gedoen!
Ook maar goed so, want skool het 12-uur opgehou met Nijinski se kalwing. Ons bestelling van kalahari.net het ook vanoggend gearriveer en ek en die dogtertjies het 'n 'mini-boekklub vergadering' gehou. Elkeen het vertel watter boeke sy gekies het en hoekom, 'n bietjie agtergrond uit elke boek gegee, en 'n deeltjie uit een boek voorgelees. Jong, ons drie is lekker buddies! Dit was sommer vrek lekker.
Vanaand het ek Jon se arm gedraai vir koffie by die Wimpy, wat toe uitgeloop het op aandete by die Wimpy. Die dogtertjies het in PNA gaan rondloop, en ek en Jon het 'n paar minute se alleen-geselstyd gehad. Ook lekker!
Ons is besig met hoofstuk 4 in die Narnia-kurrikulum, en nog steeds geniet ons dit baie. Ons't vandag meestal Engels gedoen - writing assignments en adjectives. En die dogtertjies ry nou elke dag twee maal 'n kort entjie perd - bloots vanaf die perdekamp na die baalkamp waar die perde elke middag vreet. Ongelukkig moet ek elke keer saamloop om hul 'n 'leg up' te gee. Firn kan die mounting block gebruik, maar Raintjie nog nie.


Sun, 4 May 2008 17:05:07 +0200:'n Volle dosyn


Voor ek by die dosyn uitkom, net 'n kort opsomming van die langnaweek:
Woensdag na ballet gaan eet by Wiesenhof. Lekker, lekker, lekker die mini-break so in die middel van die week. Ook lekker skoolvakansie en al die werkers nog Woensdag, dus klomp boekhouding gedoen gekry.
Donderdag neem Jon bakdag vir my waar en hy en Rain bak 'n ingewikkelde gevlegde witbrood. Ek kry dus weereens so tussen die boer en die huiswerk 'n hele spul boekhou klaar.
Vrydag werk ek dat dit klap aan die boekhou, ek begin vrek moeg raak daarvoor, en my kop is die hele dag seer. Ek klim vroeg in die bed en voor 8 slaap ek al.
Saterdag staan ek met 'n hoofpyn op, maar dis my en Jon se twaalfde huweliksherdenking en ons gaan op 'n 'date'! Ek sluk 'n pil en geniet die oggend verskriklik. Die dogtertjies by vriende, die Greylings, afgelaai waar hul baba-hondjies versorg en hulself baie geniet, en ek en Jon sit af dorp toe. Ontbyt ge-eet (by Wiesenhof, waar anders?), bietjie in die dorp rondgehang, by 'n teetuin by 'n kwekery gaan tee drink en koek eet, take-aways gaan haal, en teruggekom na 'n koei wat besig was om te kalf. Elite se bulkalfie is onmiddellik 'Enniversary' gedoop. Arme ou girl het vanoggend melkkoors gekry, en Jon het haar 5 inspuitings van 20cc elk in die nek gegee. Ek't haar so jammer gekry!
Vandag het ek met 'n groot slag teruggekom aarde toe. Heel oggend, na plaaswerkies, die vrekken sleur-huiswerkies gedoen. En admin die middag! Goor!


Tue, 29 Apr 2008 19:18:10 +0200:Skoolvakansie


Hierdie week is dit skoolvakansie, en uiteindelik kom ek weer by my blog uit. Ons is steeds in die moeilikheid by die bank oor ons uitstaande finansiele state, en ek probeer my uiterste om 'n bietjie by die boekhouding uit te kom. Dus word alles, insluitende my blog, maar 'n bietjie afgeskeep.
Ek gaan hard probeer om die hoogtepunte van die afgelope week-of-wat te onthou:
Vrydagmiddag was ons by 'n maatjie se 8ste verjaarsdagpartytjie. Die tema was Showjumping en alles was in pers. Die tafel was asemrowend mooi gedek, met 'n pragtige lekkergoedpakkie (met net pienk en pers lekkers in) vir elke kind. Die 'arena' was afgekamp met pers vlaggies in verskillende patrone. Elke kind het 'n stokperd gekry (wat hy of sy huis toe kon neem) en daar was 'jumps' waaroor kind en stokperd moes spring. Elke kind het na voltooiing van die baan 'n pers roset gekry. Die dogtertjies het dit verskriklik geniet, en ek net so - van die gesels met die ander ma's, tot Firn (verreweg die oudste kind daar) wat so mooi perde uitruil met die kleintjies, tot die wegglip vir 'n koffie by Wiesenhof, net ek en Jon.
Ons't Vrydag vir ons 'n koolstoof gekoop, en hom Saterdag gaan oplaai, en sommer 'n oggendete by Wiesenhof ingewerk. Ongelukkig baie gejaag, want ons het per ongeluk die groot elektriese heining se hek gesluit, en die werkers en koeie kon nie in- of uit nie. Ons moes dus ore-in-die-nek terug om oop te sluit. Lekker warm voor die koolstoof, maar ons ken nog nie al sy trieks nie.
Sondag tuis gebly, die gewone plaas-dinge gedoen. Ek was die hele Sondagoggend in die stal, want ek moes die koeie condition score (hoe vet of hoe maer) omdat ons hul voer-hoeveelhede wou aanpas.
Maandag het 'n tuisskoolgesin kom kuier. Dit was lekker, maar hectic. Hulle't 10 oor 7 hier aangekom, en na 17:00 eers weer gery. Die twee dogtertjies en die gaste se kinders, Robert en Kathleen, het gekyk hoe word daar gemelk, hoenders kos gegee, kalfies bottel gegee, perdgery, gehelp om room af te skei, probeer botter maak, 'n entjie op die plaas in die bakkie gery, weer gekyk hoe word daar gemelk, weer kalfies bottel gegee, en weer perdgery. O ja, en ook die blindes help kos gee. Die ma vertel dat haar kinders nog NOOIT so vuil was nie!
Vandag is ons weer terug na normaal, behalwe dat ek besluit het om die dogtertjies die twee werksdae hierdie week af te gee, want ons het nie in April vakansie gehad toe die skole gesluit was nie. Dus het ek heelwat Admin en Boekhou gedoen gekry, tot my baie groot vreugde. Ek is slegs onderbreek deur Pebble wat in 'n gat geval het en bevry moes word - die normale, daaglikse, plaaskrisisse!


Sun, 20 Apr 2008 19:52:13 +0200:Kampioene!


Die Groot Event van die naweek was die hondeskou vandag, en die sterre was Firn en Hope. Tweede in die Obedience-kompetisie vir beginners, eerste van al die honde (beginners en ervare honde ingesluit) in hoogspring en eerste van al die honde in verspring!
Firn verdien dit, want sy het die afgelope week baie hard met Hope geoefen. Ek en Rain het net so hard voorberei aan Rain se 'tuckshop' by die hondeskou. Sy't baie goed gedoen - al die deelnemers en toeskouers het 'n ietsie by haar gekoop. En watter goeie ervaring was dit nie - van die advertensiebord verf terwyl ek vir haar lees, tot die beplanning en lyste maak, die 'winkel' beman en die kleingeld en wins uitwerk.
Jon het die naweek uiteindelik, na verskriklik baie werk, die 10 000 liter plastiek-watertenk binne-in ons bestaande baksteen-watertenk laat sak met behulp van 'n tuisgeboude 'hyskraan', en dit vandag met groot gesukkel opgekoppel. Letterlik enkele minute voor ons moes vertrek na die hondeskou, het ons water in die huis gehad. Jon kon nie eers die tradisionele Sondagmiddagete van skaapboud, rys, aartappels en groente wat ek gekook het, saam met ons eet nie - hy't maar broodrolletjies met koue skaapboud op pad skou toe so in die ry ge-eet.
'n Besige Sondag, dus, sonder die gewone uurtjie of langer ruskans wat help vir die week wat kom.


Fri, 18 Apr 2008 20:20:10 +0200:Sekerheid


Skielik, die afgelope twee weke of so, het ek nie meer daardie rotsvaste sekerheid in my dat ons besig is met die regte ding nie - met die koeie, en met die tuisonderrig.
Ek kyk vir 'n koei, en in plaas van die gebruiklike vreugde en liefde, dink ek 'is jy regtig al die opoffering, die moegheid, die stukkende huis, werd?'
Skielik is ek jaloers op ma's wat hul kinders by die skool aflaai en rustige oggende tuis deurbring. Ek wonder oor daardie 4-dae-'n-week Wiskunde, oor Firn wat dalk 'agter' is met haar Wiskunde, oor Rain wat nie kan spel nie.
Ek is onvergenoegd. Rain hardloop na ballet huis toe en val - en ek is meer kwaad (alhoewel ek dit darem nie wys nie) oor stukkende balletkouse as wat ek besorgd is oor 'n nerf-af elmboog.
Teen die einde van die week begin dit beter gaan. Daar is nog die klein jakkalsies - Firn wat 30 minute lank in 'skooltyd' soek vir Rain se olieverf, want sy wil verf terwyl ek vir hulle lees. Rain se Wiskunde-werkboek wat weg is. Die huis is redelik skoon, maar vrek deurmekaar. Rain se kamer is 'n absolute varknes, en ek WEET ek gaan nie binnekort by regpak uitkom nie.
Maar ek begin weer die diere geniet - drie kalfies by, Brumby uit Bambi en Primrose uit Pnumpning; Brilliant uit Babsie. Ons bereik die mylpaal van 50-koeie-in-melk. Hartseer ook by - E.P. kalf laasnag, maar die ou kalfie is dood toe ek vanoggend by hulle kom.
Skool die week was besig. Ons het begin om ballet te oefen gedurende skooltyd, en Firn oefen vir Sondag se hondeskou. Rain gaan koeldranke verkoop by die hondeskou, so ons verf 'n advertensiebord. Gelukkig het Kevin vanmiddag vir perdry gekom, en kon ons dus dit als, plus 'n storie uit Indie en 'n halfuur se Soologie, inpas. Firn en Rain het ook vir 'n verandering hardop voorgelees, en Rain se lees het heelwat verbeter.
Vanaand het ons by Wiesenhof gaan eet. Dis my skuilte teen die plaas se oppe en affe, teen werkers wat nie werk soos hulle moet nie, teen siek diere, teen dogtertjies wat met mekaar baklei, teen die naweek se sleurwerkies sonder-'n-bediende, en teen moenie-die-tuimeldroeer gebruik nie. Dis my break van die ewige dag-in-dag-uit gesonde kos beplan, kook, toesien dat dit ge-eet word.


Wed, 16 Apr 2008 20:09:18 +0200:Die dogtertjies se nuutste komposisie


Vandag het Firn hierdie liedjie geskryf:
"MY UNCLE'S FARM": One day at my uncle's farm, There was a great big ruckus in the barn, The ducks had gone without a trace (They'd gone to see a steeplechase).
The horse said "Neigh", the cow said "Moo", The parrot said "How do you do?" The dog said "Woof," there were no ducks to quack, They were at the racetrack.
One day at my uncle's farm, There was a great big ruckus in the barn, The ducks had gone without a trace (They'd gone to see a steeplechase).
The horse said "Neigh", the cow said "Moo", The owl hooted "Who-who-who?" The dog said "Woof", the ducks said "Quack", As they all came waddling back.


Tue, 15 Apr 2008 06:35:07 +0200:Nog is het einde niet


Vanoggend skuins na 5 kontroleer Jon gisteraand se melkproduksies en wat sien ons? Olive is nie gemelk nie. Ek gaan soek haar, en kry haar nerens nie. Dit kos in die bakkie spring en die plaas vol rondjaag op soek na Olive, wat duidelik nie gister saam met die ander koeie teruggekom het nie.
'n Rukkie rondgejaag en kom toe op Aletta en Olive af. (Ek't Aletta wakker gebel om Olive te gaan soek; dit was immers haar verantwoordelikheid om al die koeie terug te bring gistermiddag). Haar dadelik in die drukgang gesit en antibiotika en vitamiene gespuit. Sy eet darem, maar haar melk is omtrent weg. Galkoors, dalk, of 'n ligte vorm van 3-dag-stywesiekte?
Terwyl ek die Olive-krisis hanteer, stoei Jon met 'n ander krisis: die kragopwekker is stukkend. En dis ons geliefde Eskom se beurtkrag-oggend. Dus jaag Jon so 08:30 Brakpan toe met die stukkende kragopwekker en ons begin eers 08:20, toe die krag aankom, te melk. Als is dus deurmekaar - ons melk eers na 11 klaar en Aletta loop dikmond met die koeie, want sy mag eers 15:45 terugkom. Ons begin weer 16:30 melk, en is eers 19:45 klaar gemelk. Lovely stuff!
Die ergste is dat die Olive-krisis my skuld is. Ek't nie opgetel dat haar melk gisteroggend met 4 liter af was nie (as ek het, sou ek Aletta ten minste gevra het om 'n ogie op haar te hou), en ek het glad nie gisteraand die produksies nagegaan nie. Nou ja, Dinki 'sulk' en Jon maak 'n plan. Hy't nou die rekenaar geprogammeer dat dit elke oggend en aand na melktyd vir my 'n SMS stuur met die volgende besonderhede: Datum, Tyd, Name van koeie waarby daar nie 'n produksie ingesleutel is nie, en totale hoeveelheid produksie vir die spesifieke melking. Tog lekker om met 'n genius getroud te wees!!
Skool vandag in volle swang so tussen die krisisse deur. Eers Wiskunde, toe in die Narnia-kurrikulum. Ons het vandag die eerste hoofstuk klaargemaak, met 'n besoek aan Indie. Dankie tog vir my kleintydse Kinders van die Wereld-boeke, ek het die hele gedeelte oor Indie vir die dogtertjies gelees.
Ballet het ook vanmiddag begin, en Rain is al juigend en Firn al klaend terug ballet toe. Ek was langlip, want met al die rondhollery het ek presies 3 minute gehad om aan te trek en reg te kry vir ballet. En die ander ma's kan altyd deur 'n ring getrek word. Hier kom ou Dinki, nie eers in die spieel gekyk nie, nie eers hare gekam nie, skoene vol koeimis. BLAH! DUBBEL BLAH!


Tue, 15 Apr 2008 06:35:05 +0200:'n Brief aan die Plaaslike Koerant


Een-of-ander wiseguy het 'n brief aan die plaaslike koerant geskryf waarin hy Lesedi (dis nou Heidelberg) Munisipaliteit se beurtkrag-skedule prys.
Ek en Jon het verplig gevoel om OOK aan die koerant te skryf, soos volg:
Meneer
INSAKE: “GROOT LOF VIR LESEDI PLAASLIKE MUNISIPALITEIT SE BEURTKRAG-SKEDULE”
Ek verwys na bogenoemde brief wat op bladsy 4 van die 9 April 2008-uitgawe van die Heidelberg/Nigel Heraut verskyn het.
Volgens die skrywer het die Munisipaliteit ‘’n nagmerrie verander in ‘n saak waaroor niemand hoef slaap te verloor nie.’ Ons wil graag die saak regstel: ons is suiwelboere en beurtkrag word toegepas presies in ons tradisionele melktyd. Sommige boere in ons omgewing verloor dus letterlik slaap deurdat hulle om 04:00 in die oggend begin melk, sodat hulle om 05:00 klaar gemelk is en dan nog een uur het om hulle melk te verkoel. Hierdie boere verloor heelwat produksie, omdat koeie nie daarvan hou om in die donker wakker gemaak en gemelk te word nie, en dus minder melk lewer.
Ander boere, soos ons, melk met ‘n kragopwekker. Dit het nie slegs die kapitale uitset van ‘n drie-fase kragopwekker tot gevolg nie, maar ook die ekstra uitgawes in terme van petrol en instandhouding.
Almal kan ongelukkig nie tevrede gestel word nie (anders sou ons voorstel dat beurtkrag altyd buite melktyd moes val), maar dit sou ons veel minder verontrief het indien beurtkrag soms soggens, soms in die middag, en soms in die aand toegepas kon word.
Die prys wat ons vir ons melk ontvang is reeds laag, ons insetkoste is reeds hoog, en die beurtkragtoepassing verhoog hierdie insetkoste aansienlik.
Die uwe

Hydeaway Jerseys DISTRIK HEIDELBERG


Sun, 13 Apr 2008 11:02:32 +0200:Wat 'n week!


Wel, laasweek was 'n nagmerrie. Dinsdagaand het ons LAAT gaan slaap, want Jon en Rain is na 'n boerevereniging-vergadering en het eers 22:00 tuis gekom. Ek en Firn het tuis gebly, want sy was nog verkoue en ek wou haar nie uitneem in die koue aanlug nie. Woensdagoggend rondom 02:00 was ons drie girls wakker; Firn het baie gehoes en ek't by haar in die bed geklim en Raintjie het kom kyk wat aangaan. Om 04:30 is ek en Jon op want hy moes na 'n klient anderkant Rustenburg.
Woensdagoggend het ek 'n yslike geveg met Eskom gehad, wat ons eers gebeurtkrag en toe geplanned maintenance het. Tussen 06:00 en 11:00 het ons dus 30 minute lank elektrisiteit gehad. Onthou, dis nie net die huis en die rekenaars nie, dis ook 600 liter melk wat moet koud kom, en water wat gepomp moet word. Omdat Yolandie nie op haar rekenaar kon werk nie, het ek haar maar dorp toe gestuur vir inkopies - maar net halwe inkopies, want die lys is op die rekenaar waarby ons nie kan uitkom nie!
Ek't ook vir Sanna huis toe gestuur omtrent net toe die krag aangekom het. Sy's baie siek en was nog nie weer daarna by die werk nie.
Dus: Donderdag geen skool nie, want ek maak huis skoon, was wasgoed, en skottelgoed. En my stresvlakke skiet hemelhoog. Ek haat hierdie onbeplande 'no school' dae. Donderdag is ook bakdag, maar Yolandie moes vir my instaan. Sy en Rain het hot cross buns uit die Lae GI-boek gemaak. Dit was ontsettend baie werk, maar baie, baie lekker. Mens kan nie glo dit bevat ProNutro en OatBran, met net 'n klein biejtie meel nie!
Tussen die huiswerk deur het ek ook 12 kalfies ge-ent, asook die hele Donderdagmiddag in die stal deurgebring, waar ek die koeie-in-melk teen bosluise behandel het.
Vrydag het ek Aletta met 'n 500ml Coke omgekoop om my in die huis te help, en dit was 'n meer 'normale' dag. Die dogtertjies het baie lekker perdgery (Skye het vir iets geskrik en bo-oor Kevin gegalop; Rain se toe sy haar oe oopmaak, le Kevin en rondrol en kreun op die grond) en na perdry het ons die gebruiklike Vrydagse Soologie gedoen. Altwee dogtertjies vind dit baie interessant - ons behandel vlieende diere in hierdie kursus wat veronderstel is om 'n jaar te neem om te voltooi. Wel, na amper 6 maande is ons nou by Les 4.
Jon het gesien ek is bietjie moedeloos toe hy Vrydagmiddag by die huis kom, en ons is Wiesenhof toe vir aandete, om my krag te gee om die plaas Saterdagoggend te face! Wel, dit werk altyd soos 'n bom en hierdie was geen uitsondering nie.
Saterdagoggend het ons vinnig ons oggendwerkies afgehandel (ek't ook die verse wat by die bul loop, asook die osse, teen bosluise behandel), en daarna al die koeie en verse wat by die bul loop, deur die drukgang gejaag vir dragtigheidsondersoeke. Dit het heel goed gegaan - geen nare verassings nie. Leon-Thom Rocket Moonshot doen darem nog sy werk! Dr Louis het ook vir Job geleer om horings te brand, want dis 'n werkie wat Jon haat, en waarby hy glad nie uitkom nie.
Saterdagmiddag het ek omgeslaap. Jon het vir my Start-Of-Milking waargeneem, want ek wou eenvoudig nie opstaan toe my wekker afgaan nie. En Saterdagaand was dit Jon se beurt op die bed - toe ek die dogtertjies om 19:45 bed toe jaag, het Jon al klaar geslaap!
Ons is altwee maar vrek moeg, en die arme dogtertjies moes dit vanoggend ontgeld. Ek het tot gedreig om die koeie te verkoop. Dus het die dogtertjies ingespring en gehelp sodat ons die oggendwerkies, asook die huiswerk en ontbyt, gou kon klaarkry.


Sun, 13 Apr 2008 10:49:59 +0200:Boeke!


Die Hyde gesin het weer 'n paar inkopies by kalahari.net gaan doen. Hier's die besonderhede:
Vir Firn (3 boeke, een as 'omkoop' vir haar immuniteitsbooster-inspuiting): Honest Dogs: A Story of Triumph and Regret from the World's Toughest Sled Dog Race; 100 Dogs Who Changed Civilization: History's Most Influential Canines; The Reign of the Greyhound.
Vir Rain (slegs 2 boeke, sy's steeds in die dog box oor daardie inspuiting!): See How It's Made ('n Dorling Kindersley-boek - dit was Die Pa se voorstel), asook Magical Unicorns (Rain se keuse)
Vir my: Things I Want My Daughters to Know - Exclusive Books beskryf die boek soos volg: When Barbara realizes time is running out, she writes letters to her four daughters, aware they'll be facing the trials and triumphs of life without her at their side. But how can she leave them when they still have so much growing up to do? By drawing on the wisdom in Barbara's letters, the girls might just find a way to cope with her loss. And in coming to terms with their bereavement, can they also set themselves free to enjoy life with all the passion and love each deserves?
Vir Jon: Best of Juluka-CD om na te luister in sy bakkie.


Tue, 8 Apr 2008 18:01:17 +0200:Mommy time


Eergisteraand het ek kwaad gaan slaap - vies vir Firn wat nie ordentlik met my gepraat het nie. Die volgende oggend, gisteroggend, het ek kwaad opgestaan - sommer oor die algemeen vies vir die dogtertjies omdat ek voel hulle waardeer nie genoeg wat ek en Jon vir hulle doen nie, en hulle dink ook nie voor hulle nare opmerkings oor ons maak nie.
Die uiteinde was dat Jon 'n gesinsvergadering byeengeroep het, en baie mooi, maar ferm, met hulle gepraat het. Ek het ook besef dat die fout in 'n mate by my ook le, want ek gee en gee tot ek op die punt van ontplof kom, in plaas daarvan dat ek omdraai en 'n break vat of hulp soek lank voordat ek by ontplof kom. Jon se praatjie het baie gehelp - veral Firn het dit vreeslik ter harte geneem, en ons kry nou 'n 'dankie' na elke ete, dogtertjies wat beter met mekaar en met ons praat, en oor die algemeen beter gedrag.
Ek beplan nou net 'n 'date' vir my en Jon - 'n klein wegbrekie vir oggend- of middagete erens sonder die dogtertjies, sodra ons 'n kansie kry. Benewens die 'mommy time' het ons ook regtig 'n bietjie 'us-time' nodig.
Net gou die belangrikste opvang-nuus:
Vrydagoggend was die hele gesin by die dokter vir ons jaarlikse immuniteits-booster inspuitings. Rain was in die dog box, want sy't uitgechicken en nie haar inspuiting gekry nie. En, soos Murphy dit wou he, het Firn, wat haar inspuiting soos 'n man gevat het, 'n ligte verkoue en Rain nie! Ons't ook gaan praat oor Jon se cholestrol wat 'moderately high' is; ons't 'n hele paar veranderings aan sy dieet gemaak (hy moes tot siens se vir 14 eiers per week, onder andere) en ek hoop hy kan daarby hou.
Saterdagoggend het ons viertjies by Wiesenhof gaan ontbyt eet. Jong, as ek eers so 'n uurtjie by Wiesenhof gesit en ontspan het, kan ek weer die plaas face vir 'n week of twee.
Jon't Saterdag die res van die dag heeldag geswoeg en gesweet aan 'n hyskraan wat hy bou om ons nuwe watertenk binne-in die ou een te laat afsak. Maar Sondag het die wind gewaai, en die projek is op ys tot volgende naweek. Ons het Sondagoggend by 'n paar boere in die omgewing gaan kuier, en Sondagmiddag is ek en Apollo, Firn en Hope, en Rain en Becca honde-opleiding toe. Hope het die heel beste van al die honde in die agility gevaar, en die instrukteur het gese dis baie min dat sulke onervare hondjies so goed spring. Firn kon bars van trots!
Ons is volstoom besig met ons 'Narnia' kurrikulum, en tot dusver gaan dit goed. Dankie tog vir die Internet - ons is besig met Hoofstuk 1 van 'The Magician's Nephew', en ons het vandag heelwat geskiedenis gedoen - fountain pens, ink pots en sealing wax, en ons moes ook 'n kortverhaal oor Sherlock Holmes - 'The Speckled Band' - lees. Als met groot gemak op die Internet gevind, wat 'n seen vir 'n Ma wat nie tyd het vir les voorberei nie.
As 'n extension van my sugte na 'n bietjie Mommy-time en 'n bietjie pampering het Yolandie, wat voorheen by 'n haarsalon gewerk het, vandag my hare gekleur. Koeibaai grys!
Gister het ons melkresultate vanaf Lactolab ontvang, en wat 'n fantastiese verassing: ons bactocount is die beste nog, op 3, en ons bottervet staan op 'n allemintige meer-as-5%. Ons is hard aan die onderhandel vir 'n verhoging in ons melkprys, en die goeie melkresultate kon nie op 'n beter tyd gekom het nie. Ek is veral in my skik omdat ek bitter min tyd in die melkstal spandeer, en ook omdat die melkmonster geneem is nadat al vier ons werkers - Job, Jabu, George en Patrick - gemelk het, wat beteken al vier werk so skoon. Dis ook lekker om 'n bietjie goeie nuus te kry nadat ons 'n berg geld moet uithaal vir 'n groter kragopwekker - waarvoor ons ook nog 4 weke moet wag - omdat Eskom ons krag afskakel presies in oggendmelktyd, drie oggende 'n week. Ons hou nou net duimvas die kleiner kragopwekker wat ons op die oomblik gebruik, hou totdat sy vervanging opdaag.


Sat, 5 Apr 2008 13:03:50 +0200:Foto's van Jersey Jeugskou



Hier's 'n paar foto's:




Thu, 3 Apr 2008 19:34:35 +0200:Sleg begin


Dis 'n nare gevoel om 05:00 in die oggend 'n kraan oop te draai, en daar is geen water nie. Gelukkig was dit net 'n lek in 'n pyp, en teen 05:30 het ons weer water gehad - te laat vir my om te stort en hare te was voor Start-Of-Milking, en ek is dus met 'n baie dik mond en nog 'n seer kop en tranende oog ook, die huis uit vir melktyd.
Aletta is met verlof, en Patrick staan vir haar in. Ek kom goed met al ons werkers oor die weg, maar Patrick vryf my net verkeerd op. Hy's seker nie te sleg nie - drink glad nie en is baie betroubaar. Maar, hy dink hy's slim, en eintlik is hy stormdom. Probeer vir hom verduidelik POSTOASTIES is siek en hy moet haar dophou! Uiteindelik het ons ooreengekom dat POTASTOTS siek is, en hy HAAR sal dophou. En my irritasievlak rys by die sekonde.
Die dogtertjies was op landbouskool vandag. Ons het so rondom 40 kalfies tussen 100 en 240kg deur die drukgang gejaag, geweeg en vir bosluise behandel. Dit was warm, my kop was seer, en Rain het lekker gestaan en droom by die nekklamp. Dus was my frustrasievlak NOG hoer toe ons daar klaar was.
Vir skool het Yolandie vir die dogtertjies die Narnia-movie uitgeneem, en hulle het sommer net voor middagete weggeval en begin kyk. Ongelukkig was die DVD foutief, en kon hulle slegs die eerste halfuur of so kyk. Ek't na middagete vir 'n rukkie saamgekyk, en ons het dit verskriklik geniet. Die rukkie van ontspan lig toe sommer ook my grumpy bui, en daar lyk die wereld toe weer na 'n lekker plek.
Vanmiddag het die dogtertjies 'n kort rukkie perdgery (ek't dit nie vertel nie, maar Rain het Vrydagoggend tydens die perdryles van Rivr afgeval toe hy vir Becca geskrik het, en ek was al heel week gretig dat hul moes ry). Dit was ook bakdag en ek en Rain het pannekoek gebak vir aandete.
Vier diere is na aan kalf - 'n koei, Babsie (vleisbees gekruis geregistreerde Jersey), en drie verse, Pnumpning, Bambi, en Njinski. Ons is dus in vir 'n besige tyd.


Wed, 2 Apr 2008 19:59:29 +0200:Idillies en terug-aarde-toe


Na 2 weke van voorbereiding het ons Maandagoggend vroeg-vroeg die pad gevat Bloemfontein toe, na die Nasionale Jersey Jeugskou. Ons was almal opgewonde, maar niks kon ons voorberei op die absoluut perfekte twee dae by die Bloem skougronde nie.
Dit was ons tipe plek, ons tipe mense, ons tipe aktiwiteite. Die mense daar was meerendeels boere wat dieselfde (indien nie groter nie) passie as ons vir die Jerseykoei het. Stoette wat al geslagte lank bestaan - soos Schoongezicht (die muesli-koei op die TV-advertensie kom uit hulle stoet) wat in die 1800's ontstaan het. Of die Manhu's, langs 'ons' stalle by die skou, waar drie geslagte kom jeugskou hou het. En watter weelde van kennis en ervaring het hulle nie met soveel entoesiasme met ons gedeel nie! En Firn SO bemoedig.
Ieder geval, Maandagoggend was dit gewoond raak aan die plek en Firn se versie, en so 'n bietjie oefen en 'tips' vang. Maandagmiddag was die die formele opening, waar elke kind 'n hempie en pet ontvang het, en daarna was dit eksamentyd. Firn het 100% vir haar heel eerste eksamen gekry, en hoewel sy voor die tyd 'n bietjie bang was, het sy dit regtig maklik gevind.
Maandagnag was ek en Firn tussen 11:00 en 01:00 wakker - altwee te opgewonde om te slaap. Later altwee in my klein enkelbedjie aan die slaap geraak, en darem nie te moeg wakker geword nie.
Dinsdag was die groot dag. Om 08:00 moes die kinders aantree om hul versies te was. Elke versie is vasgemaak, natgemaak, ingeseep, gewas, en drooggemaak. Firn het haar versie se stert gevleg voor sy gewas is, sodat dit later mooi sou uitkam en droogword. Die kinders het 30 minute gehad om die proses te voltooi en drie beoordelaars het hul dopgehou en punte gegee.
Nadat elke versie geinspekteer is, is hulle in kwarantyn geplaas en die kinders het almal netjies gaan aantrek - jeugskouhempies en -petjies, blou jeans en wit gumboots (behalwe vir die heel kleinste deelnemertjie, vir wie daar nie wit gumboots klein genoeg was nie!). Toe het die voorbereiding begin. Elke versie is geborsel, hoefies swartgemaak met skoenpolitoer, uiertjie wit gemaak met babapoeier, ogies, oortjies en neusie uitgevee. Stert is uitgekam. Hiervoor het die kinders 20 minute gehad en weereens is hulle deur drie beoordelaars gepunt.
Laaste was die skouring self. Die versies het almal leer-skouhalters aangehad en die kinders het in die ring geloop met hulle versies. Daar's 'n magdom reels - hou die leiband in jou linkerhand, loop agteruit, hou die versie se kop op, hoe die versie se voete moet wees, moet nooit tussen die beoordeelaar en jou versie kom nie, kyk 75% vir die beoordeelaar en 25% vir jou versie. Firn het 'n paar van die reels vergeet, maar steeds saam met 7 ander kinders 11de gekom, en R250 vir haar moeite ontvang. Die seremoniemeester het ook gevra vir 'n spesiale applous vir Firn, omdat dit haar heel eerste jeugskou was. In sommige ander provinsies moes kinders drie skoue bywoon, plus proewe, om te kwalifiseer om deel te neem.
Firn en Rain het altwee gehuil toe hulle van die geleende versie - Zabeth Golde - moes afskeid neem. Golde was op 'n veiling by die skou en is verkoop vir oor die R11 000 (op ouderdom 10 maande). Ek sal probeer om later 'n paar foto's op my blog te sit - ons het 'n hele berg vol geneem.
Gisteraand so net voor 10-uur was ons tuis. Dit was 'n ongelooflike ervaring, wat my lank sal bybly. Ek moet ook noem dat heelparty mense baie beindruk was met Firn; sy's beskryf as "'n meisiekind wat moet dopgehou word". Nou kan ons nie wag vir die volgende skou nie!
Vandag met 'n groot slag teruggekom aarde toe - ons eerste load shedding, slap bang in melktyd. En Aletta het gister op verlof gegaan, en haar tweede in bevel het 'n disaster van die bottels gemaak. Soveel werkers, soveel demands, soveel blapse. 'n Rowwerige, besige dag. Maar die skou-ervaring altyd in my agterkop as troos.
Ook nog 'n landmerk bereik vandag - Narnia heeltemal klaargelees en met die nuwe Narnia-kurrikulum begin - dus die eerste en laaste hoofstuk van Narnia gelees. Ek is bly ons is nie klaar met die boek nie, want hy voel nou al vir my soos 'n ou vriend. Skool dus heel goed. Ons het willekeurig besluit ons werk deur die skoolvakansie, maar ons gaan nie Wiskunde doen nie.


Thu, 27 Mar 2008 18:17:02 +0200:'n Beter dag


Alhoewel dit begin het met versoeke vir oogsalf en koorsblaarsalf, was vandag darem beter as die vorige twee dae. Die werkers met hulle nimmereindigende please call me's (11 gister!) en nimmereindigende versoeke tap my woes. Maar nou ja, deel van my werk is om hulle gelukkig te hou sodat hulle ordentlike werk lewer, en ek moet dit maar so aanvaar (Jon verskil wel soms van my). Ek dink tog hulle weet dis 'n goeie plek om te werk die, en, touch wood, ons het relatief minder arbeidsprobleme as die meeste ander boere.
Ons het woes voorberei vir die Jeugskou vandag. Firn is besig om haar gereedskap te verf, ons het 'n ossie, Flapjack, gebruik om op te oefen. 'Jigger', soos hy by ons heet, het doodstil gestaan terwyl die dogtertjies hom met 'n tuinslang gewas het, geseep het, geborsel het, gespoel het en weer met 'n handdoek afgedroog het. Sy hoefies is met 'n skropborsel geskrop. Ek kon nie glo dat Jackie so stil en gedwee als aanvaar het nie - selfs toe Firn sy ore skoongemaak het met 'n sagte lap.
Ons het ook 'n bietje hersiening van die teorie gedoen. More leer ons die laaste bietje klaar, en hersien ons 'Bestuur en Voeding' - volgens Firn die moeilikste deel. Firn't ook vir my 2 hoofstukke in Strength Lies in the Heart gelees. Ek paniek so 'n bietjie oor Firn se skrywery - omdat ek nie kan byhou met lees nie, en omdat ek nog niks gedoen het aan moontlike publikasie van haar boeke nie. Ons moet nou net eers die skou agter die rug kry, dan sal ek daaraan aandag gee ...
'n Saluut vir Jon wat gisteraand deur 'n ballet-recital van Rain gesit het - konstruktiewe kommentaar en al! Wil maar liewers nie dink wat die ballet-juffrou sal se oor sy raad dat Rain 'n wortel tussen haar boudjies moet vasknyp nie.
Plaasnuus is dat 'n koei en 'n vers - Henrietta en Jane - vandag geaborteer het. Jane is 'n 'habitual aborter' en het nog nooit gekalf nie. Ons melk haar al baie lank. Henrietta is ons vorige bul, Haystack Mo Jake, se oudste dogter en ek kon nie wag om haar in die stal te kry nie. Ons sal haar maar wel probeer melk, en sien wat gebeur.


Wed, 26 Mar 2008 17:49:32 +0200:Besig en moeg


Nog 'n soort-van 'n disjointed dag, van rondhardloop tussen verskillende versoeke van verskillende kante af. Dit voel vir my asof ek spinning doen, ek trap en trap en, as die dag verby is, kan ek niks wys nie!
Rain wil nog steeds ballet oefen, Firn wil vir my lees, werkers soek allerhande goed, huismense moet eet, plaas is veeleisend. Ek's 'n stuk kougom wat in alle rigtings gerek word!
Skool het bestaan uit 'n besoek aan iemand wat onlangs sy beeste geskou het, om 'n knipper en 'n halter te leen. Ek en Firn het geleer oor hoe mens jou vers moet uitsoek, asook die eienskappe van 'n goeie skouvers. Firn het begin om haar gereedskap bymekaar te sit en te verf (baie mooi blou). Die dogtertjies het perdgery. Ek't rondgehol. Sommer net 'n bietjie van 'n narerige dag.


Tue, 25 Mar 2008 18:06:33 +0200:Oor effektiwiteit


My lessenaar lyk alweer soos 'n varkhok, en ek het dit heel onlangs reggepak. Ek hol rond soos 'n afkop-hoender - gryp hier en gryp daar, doen dinge halfpad, los eers, doen iets anders halfpad, los weer en maak die eerste ding klaar. Ek sukkel om die 7 mense wat aan my rapporteer, besig en opgecheck te hou. Ek delegeer en kontroleer, dit voel my ek doen niks meer self nie ...
Dan noem ons nog nie die dogtertjies nie! Firn wil more perdry, Rain wil ballet oefen, ek wil dorp toe, ons hou nie skoolvakansie nie, Job gaan op verlof, en ons berei Firn voor vir haar eerste teorie-eksamen Maandag oor die versorging en skou van Jerseys.
Vandag was ekstra-besig, want ons moes 'n klomp plaaswerk, wat met al die vakansiedae agterwee gebly het, inhaal. Ses koeie is gespuit, in verskillende stadia van aanloop tot kalwing. Vyf kalfies is met RB51 ge-ent. Kalfhokke is skoongemaak en drade is reggemaak. Kalfies is in ander hokke en kampe gere-organiseer. Nune het gekalf - 'n bulkalfie, heel gepas deur Firn gedoop - 'Not-a-girl.' Ons melk dus nou 47 koeie, en ek dink ons moet dit vier wanneer ons die 50-kerf bereik, wat hopenlik oor omtrent 'n maand sal wees. Volgende om te kalf is Babsie. Babsie se ma was dragtig met haar toe ons haar gekoop het. Die ma, Bontrok, is 'n baie goeie, geregistreerde Jersey. Babsie se pa was heel duidelik 'n Brahmaan. Dus gee Babsie nie veel melk nie! 'n Hele paar verse, Nijinski, Bambi, en Pnumpning, is omtrent drie weke van kalf af.
Afgri het afgelewer; DairyCare was hier om een van ons Duovacs reg te maak. Dis 'n regtige lekker stukkie gereedskap - dit sny outomaties die vakuum af as die melkvloei laer as 'n seker koers is, en dus kan die koeie nie oormelk word nie.
Ons doen so liggies-liggies skool deur die vakansie. Vandag het ek twee hoofstukke in Narnia - 'The Last Battle' gelees, en ons het nog twee hoofstukke oor, dan is ons klaar met die hele boek. Terwyl ek gelees het, het die dogtertjies hulle nuwe t-hemde met lapverf geverf. Ek en Firn het ook die koei se spysverteringstelsel asook koeisiektes geleer - ons moes maar 'n bietjie opskud, want Maandag kom nader en daar is nog heelwat om te leer. Omdat dit in redelike moeilike Afrikaans is, sit ek maar saam met Firn en leer ons so saam-saam. Firn het ook vir my 'n hoofstuk uit Strength Lies in the Heart gelees.


Tue, 25 Mar 2008 11:39:40 +0200:Los gedagtes


Sommer net 'n paar hoogtepunte van die Paasnaweek vir die onthou:
Vrydag het ek, Rain en Jon die koek wat ons Donderdag op bakdag gebak het, versier. Dit het ons amper 'n hele drie ure geneem. 'n Vriendin van die dogtertjies het 19 jaar oud geword, en Rain wou baie graag vir haar 'n koek bak. Ons het 'n 'slumber party' koek gebak, kompleet met bed en mat en drie dogtertjies wat onder die duvet-oortreksel le en slaap. Die dogtertjies onder die duvet is gemaak uit Tinkies, die kussings uit gesnyde marshmallows, die gesigte uit wafer-beskuitjies wat rond geknip is. Hare is gemaak met versiersuiker in 'n skoon inspuiting. Vrydagmiddag na middagmelk vriende toe om die koek af te lewer, en lekker daar gekuier.
Saterdagoggend vroeg is ons dorp toe vir ontbyt en inkopies. Ek't myself bederf met wintersklere en nuwe beddegoed. Firn't 'n selfoonsokkie met hondespore en nuwe beddegoed gekry, en Rain baie lekker nuwe maatkoppies en maat-lepels. Saterdagmiddag was dit doppies verf met gesmelte baktjoklit ter voorbereiding vir Sondag se poeding. Tydrowend, maar lekker!
Sondagoggend het die paashasie oudergewoonte kom kuier. Maar dis 'n gesondheidsbewuste paashasie - net 'n paar ou eiertjies weggesteek en vir elke dogtertjie 'n backpack gevul met materiaalverf, kwaste, en 'n t-shirt vir elkeen om te verf.
Sondagmiddag het ons gaan eet by Andre en Antoinette en weer lekker gekuier. Jon het ons nuwe rekenaarstelsel gedemo - ons kan nou vanaf enige plek inlog op ons selfone en kyk hoe lyk dinge in die melkstal. Sondagoggend vroeg het ons die nuutste kalfies getag.
Maandag het ons 'n bietjie werk ingekry - plaaswerk en admin, en om die naweek af te sluit vroegaand by Wiesenhof gaan eet. Die dogtertjies het ook Maandagmiddag perd gery, en ek't 'n klein beurtjie gekry - heerlik!


Sun, 16 Mar 2008 17:29:47 +0200:Chronicles of Hydeaway Farm


Ek vra om verskoning aan al my lesers (ek dink daar's 2 van julle!) vir my afwesigheid. Na ons terugkeer uit Durban het dit redelik woes gegaan en het baie dinge gebeur. Hier's 'n paar hoogtepunte:
Sondag: Ons was nog steeds in Durban; Jon het die dag afgehad en ons het by Ballito gaan swem in die see en, op die dogtertjies se versoek, na 'n Touch Farm gegaan waar hulle op 'n REGTE ponie kon ry en 'n REGTE Jerseykoei met die hand kon melk! Rain het die meeste daarvan gehou om die hasies vas te hou, en Firn was 'n bietjie minder stil en minder homesick na die besoek.
Maandag: Jon het tot skuins na 3 gewerk, en ons het in die pad geval terug huis toe. Skool was goed; ons het Soologie gedoen en 'n klomp hoofstukke in Narnia gelees. Ek't weer heelwat Admin gedoen gekry, die dogtertjies het vir oulaas ure lank geswem. Ons't so 9-uur tuis gekom - doodmoeg.
Dinsdag: Net vinnig die diere deurgehardloop en honde kos gegee, en weer in die pad geval na 'n boeredag by Lericia Jerseys tussen Potch en Klerksdorp. Dit was baie interessant - veral 'n Amerikaanse teler van onder andere 3 uit die top 10 bulle in die WERELD; ek't omtrent aan sy lippe gehang. Ook lekker om van die voorste genetika in die land in lewende lywe te sien. Geen skool.
Woensdag: Ons neem die groot besluit om Yolandie permanent (5 dae 'n week in plaas van 1) in diens te neem, weens 'n uiteenlopende klomp omstandighede. Dit hou my Woensdag en Donderdag baie besig. Dogtertjies geniet hulle ballet en skool is heel goed, want ons doen Wiskunde, 2 hoofstukke uit Narnia, wat nou end se kant toe begin staan, en 'n bietjie in 'The Care and Keeping of You.' Firn lees vir my uit Strength Lies in the Heart.
Donderdag: Besig. Ons kry twee nuwe versies - March uit Made You Look, en Kulula uit Kiske. Ek begin Yolandie oplei en skool is weereens goed, behalwe dat ons vergeet van Firn se lees. Ons doen Narnia, Wiskunde, en 'n bietjie oor sundials. Bakdag - ek en Rain bak 'n koek.
Vrydag: Kevin kom laat vir perdrylesse en dus is daar geen skool nie. Firn handgalop alleen, Rain draf alleen, en die twee dogtertjies is oor die algemeen baie ingenome. Ek jaag 40 kleinerige kalfies (100 tot 230 kg) deur die drukgang en ontwurm en sit rekkies om die horings. Ek en Rain spandeer ongeveer die hele middag om die koek te versier - 'n ingewikkelde patroon met hansworse bo-op. Rain doen die leeue-aandeel van die werk.
Saterdag: Jon probeer om ons nuwe watertenk binne-in ons ou watertenk te installeer, wat behels dat hy dit 6 meter hoog moet ophys. Dit reen, die kabels gly, en dit werk net glad nie. Jon is baie ontmoedig.
Sondag: Vriende kom eet brunch en kuier lekker saam, ook om die huur van ons lande vir die volgende seisoen te bespreek. Ons smul aan Rain se koek, en die tafel lyk baie mooi met naamkaartjies deur Rain gemaak.
Dus gaan dit oor die algemeen goed hier, net 'n bietjie besig. Firn is baie afwesig, sy wil regtig net voor haar rekenaar sit en skryf en ons mis haar verskriklik. Dit voel vir my asof sy klaar groot is en my nie regtig meer nodig het nie, en dis glad nie 'n lekker gevoel nie. Rain het 'n lekker week agter die rug met ballet, koekbak, en onthaal. Ons oorweeg dit om 'n silo op ons plaas in 'n gastehuis te omskep - merendeels om Rain se onthalwe. Sy is mal daaroor om mense te onthaal en versorg. Jon is moegerig; die gesukkel met die tenk het hom lyfseer en uitgeput gelaat. Ek's OK; ek hoop Yolandie gaan op die lange duur baie help om my werklas te verlig.


Mon, 10 Mar 2008 07:40:49 +0200:Futher reflections upon ...


Een van ons gesin se gunsteling-digters is Ogden Nash, en een van ons gunsteling-gedigte is die volgende:

"Further Reflections Upon Parsley
Parsley is garsley"

Vandag was ek in my agterkop besig met 'Further Reflections' - oor prioriteite, oor emigreer, oor produktiwiteit, oor die plaas. Ons is nog steeds in Durban, Jon is heeldag besig by sy klient om voor te berei vir more se lewendig gaan, en die dogtertjies het ure lank geswem en meestal hulself vermaak. Ek't dus baie boekhouding gedoen (al ons fakture, plaas en rekenaarmaatskappy, is ingesleutel tot op datum) en, omdat dit nie my hele brein in beslag neem nie, baie gedink.
Iets sal ons moet doen oor die boekhou- en administrasie-werklas. Die bank se spertye kom nader, en ons is al weer woes agter! En ek is nie seker of ek regtig baie besig is, en of ek net nie my tyd produktief genoeg gebruik nie. Jon meen dat ek te veel tyd aan 'trivialities' spandeer, en dalk is hy reg! Tog, ek kan nie net voor die rekenaar sit nie, met 'n melkery moet mens maar baie 'hands on' wees. Hier is die areas waar ek bitter graag wil verbeter:
1. Ek wil minder moeg wees as Jon saans by die huis kom. Meestal is ek 'n regte verwelkte ou blommetjie wat net wil slaap. 2. Ek wil meer tyd met die dogtertjies spandeer en veral meer met hulle speel. Ek luister goed na al hulle stories (want ek glo een van mens se basiese behoeftes is om GEHOOR te word). Ons werk baie saam op die plaas. Maar ons speel nie genoeg nie. Weereens 'n energie-probleem! En ek voel verskriklik skuldig omdat ek nog nie 'Pinto' klaargelees het nie. Soveel ander mense het dit al gelees, en ek, Firn se Ma, het nog nie! 3. Ek wil meer tyd in die melkstal spandeer. Ek loop wel die diere deur elke oggend, en ek probeer in-en-uit by die stal wees. Maar nie genoeg na my sin nie. Ons wil nou vir my 'n kantoor in 'n hoekie van die garage langs die melkkamer prakseer, sodat ek in die middae daar op die rekenaar kan sit en werk. So is ek ten minste binne hoorafstand van die stal. 4. Ek wil ons admin en boekhouding op datum bring. Weereens 'n energie-probleem. As ek elke aand nadat die dogtertjies gaan slaap het, 'n uur daaraan kan spandeer, sal dit nie so agter raak nie. Net, wanneer die dogtertjies gaan slaap, koelleps ek ook, klokslag!


Fri, 7 Mar 2008 17:46:33 +0200:Hello, Durban


Gistermiddag Durban toe gery vir Jon se werk - 'n klient gaan Sondag (!) lewendig op 'n stelsel wat met Jon se Rascal-stelsel moet integreer. Dus: gister geen skool nie, want ek het ingepak en die plaas voorberei op ons afwesigheid.
Ons bly in 'n baie mooi huis met 'n lekker patio en swembad. Die dogtertjies swem amper sonder ophou; gelukkig kan ek op die patio sit en werk, waarvandaan ek net-net hul koppies in die swembad kan sien. Ons het darem 'n bietjie skool ingekry so tussen die swemmery: lees uit die laaste Narnia-boek (met 'n knop in my keel; ek sal baie hartseer van Narnia afstand doen), en 'n uur-lange Soologie-les oor die verskillende soorte voelvere en hul funksies. Ek het met opset nie die lywige Wiskunde-leers en boeke ingepak nie; ons beplan om Maandagmiddag terug te ry plaas toe en dit was nie vir my die moeite werd om in te pak vir twee dae se gebruik nie.
'n Ander tuisskoolma het haar Saxon Maths Gr 5 aangegee na my toe; ek is ekstaties daaroor. Ek is mal oor Saxon maths; elke les leer 'n nuwe konsep aan, maar toets ook amper al die vroeer-geleerde konsepte. Firn is hier rondom les 70 in Saxon Grade 4; Rain trek 'n kortkoppie agter haar rondom les 10, ook in Grade 4.
Die dogtertjies geniet dit baie hier; ons het nie Firn se rekenaar ingepak nie, en dus kan Rain nie kla dat sy verveeld is terwyl Firn skryf nie. Hulle swem ook sommer al stukke beter nadat hulle vanoggend voor 7 al vir die eerste keer in die swembad was. En eet! Die swemmery gee hulle 'n vreeslike eetlus.
Ek het 'Pinto' saamgebring en hoop om die naweek baie proefleeswerk gedoen te kry. Maar ek is ook histeries oor my verskriklike agterstallige admin. Op die plaas gaan dit eenvoudig net te dol om selfs die huidige administrasie op datum te hou, en dan praat ons nie eers van die bank se deadlines vir ons agterstallige state nie. Ek het dus vanmiddag verwoed admin gedoen, en daar's nog 'n berg wat eenvoudig voor Dinsdag MOET klaar. En ek wil graag Sondag die hele dag afvat, siende dat ek nooit op die plaas so 'n kans kry nie ...


Wed, 5 Mar 2008 09:31:27 +0200:'n Nuwe koeltenk!


Deel van Ma-wees is die Mamma-roep elke nag. Dan staan ek maar gedwee uit my gemaklike dubbelbed op, klim die leer na Rain se 'bunk-bed', en snuggle in, styf agter Raintjie se rug. Firn, weer, sukkel amper elke aand om aan die slaap te raak, en klim dan aan Jon se kant in ons bed (ek is gewoonlik salig onbewus van die hele partytjie). Ons is dus geseen met twee dogtertjies wat nie deurslaap nie, ouderdomme 8 en 11!
Saterdag het ons ons nuwe plaaskoeltenk (1150 liter) gekoop. Arme Jon, wat Vrydagmiddag Balfour toe gery het, moes dus Saterdag twee maal Balfour toe ry - eers om die tenk te gaan laai, en toe weer om die geleende sleepwa terug te besorg. Daarna't Jon die hele middag met die tenk gespook, maar kon hom nie aan die werk kry nie. Bel heel moedeloos vir Colin van Dairycare, en, baie ongewoon, kry hom nie. Sondagoggend bel Colin (het sy foon in sy kar vergeet), kom Sondagmiddag, vind 'n los draad, en voila, die tenk werk en hy maak baie koud! Colin't ook gevind dat ons volts heeltemal te hoog is, ek bel ESKOM en 'n wonderwerk gebeur - hulle kom maak dit na een oproep op 'n Sondagmiddag reg.
Sondagmiddag was weer honde-opleiding, en Hope, Firn se windhondjie, doen die beste in die puppy-groep. Ek kry raas omdat ek en Apollo nie ons huiswerk gedoen het nie; Apollo sleep my nog steeds agter hom aan teen 'n verskriklike spoed! Maar wanneer, wil ek weet, moet ek tyd kry vir honde-huiswerk?
Skool gister was lekker en suksesvol. Ek't twee hoofstukke uit Narnia gelees, die dogtertjies het Wiskunde gedoen (Rain, soos omtrent altyd, alles reg), Firn't Creative Writing gedoen, Rain't vir ons gelees, en ons het meer geleer oor wat seisoene veroorsaak. Ballet gistermiddag ook lekker; Firn 'kliek' nou heerlik met twee balletmaatjies, en Rain speel tydens Firn se les met die balletonderwyseres se dogtertjie.
Vandag het ek moeilikheid verwag: Sanna is af om haar seuntjie hospitaal toe te neem, Afgri lewer af, en dis inkopiedag (not to mention dat Aletta nog op verlof is). Maar, ons is daar deur, en dit het heel OK afgeloop. Net, Line, een van ons koeie, het ons stalrekenaar tot binne-in die stal geskop en ek vermoed (ek wag nog vir bevestiging van Jon) dat die rekenaar geskiedenis is. Gelukkig vind daar outomatiese back-ups oor die wireless network na die huis toe plaas, so ons het dus nie veel data verloor nie - dankie, Jon!
Skool weereens heel suksesvol - ons lees twee hoofstukke in Narnia en daarmee is ons ook klaar met die sesde boek in die reeks. Firn lees vir my uit haar tweede boek - Strength lies in the heart. Rain lees uit The Secret Unicorn. Die dogtertjies doen Wiskunde. Rain maak 'n kaartjie en verf 'n paar prente. Firn doen navorsing oor die Iditarod honde-slee-resies, ter nagedagtenis aan haar groot held, die hond Balto wat 'n dorp in Alaska, Nome, se inwoners gered het deur medisyne in 'n naburige dorp te gaan haal.
Die twee stouterds baklei ook oor die dorp Darrowby, 'n fiktiewe dorp geskep deur die skrywer en vee-arts, James Herriot. Firn weier om vir Rain die regte dorp, Thirsk, se naam te spel. Rede: Net James Herriot mag oor Thirsk skryf, nie Rain Hyde ook nie!
Star se bulletjie, Saturn (ongeveer 1 jaar oud) is siek en ek stop hom in die ou melkstal by die klein kalfies in en gee hom 'n shot oxytetracycline.
Oreo, 'n 600 kg Foksterrier (Holstein) het mastitis en ons hardloop ons gedaan om haar in die drukgang te kry sodat Job haar kan spuit. Sy skop omtrent die drukgang uitmekaar.


Sat, 1 Mar 2008 12:04:18 +0200:Foto's van Firn se partytjie



Hier's die koek:

En hier skep Firn vir 'n maatjie koek:

Rain en Gabriella het te lekker gespeel:

So het ons rondgery en diere gekyk:



Fri, 29 Feb 2008 17:55:38 +0200:Nog probleme met koeltenks


Ek kan nie meer onthou hoeveel ek vertel het oor ons probleme met koeltenks nie. Kom ek probeer dit opsom in 'n neutedop: een 650 liter tenk se roerdermotor het gegaan - kwotasie R6000. Ander tenk deur sharks sogenaamd 'reggemaak' - hulle R4000 betaal maar tenk nog net so stukkend. Kwotasie om reg te maak: R17 000. En ons het die tenk skaars gekoop! Nou oorweeg ons dit maar om 'n tweedehandse 1050 liter-tenk teen R15 000 te koop, en die half-stukkende tenk vir halfprys te smous. Wat my so moedeloos en vies maak, is die wyse waarop die liewe plaas net nie ophou om geld te vreet nie. Ons het al die afgelope paar maande 'n berg geld op koeltenks spandeer, en nog steeds is ons probleme nie uitgesorteer nie.
Skool gister was ietwat anders as die gewone - ons vier het eers langsaan gaan kyk hoe vinnig hulle Spacestream (satelliet) internet is, want ons GPRS-konneksie is te stadig vir Jon om gemaklik van die huis af te werk. Daarna een hoofstuk in Narnia gelees, terwyl die dogtertjies met Firn se verjaarsdag-geskenke vanaf die bure gespeel het, Wiskunde gedoen, nog 'n hoofstuk in Narnia gelees (ons kon nie anders nie, want dit was SO spannend), en ek en Firn het 'n bietjie aan 'Pinto' geskaaf. Jon het ons uitgeneem vir middagete en daarna't ons sy nuwe bakkie gaan oplaai - hoogs opwindend vir die hele gesin. Omdat ons dus vandag die AVIS kar ('n Polo) sou teruggee, en daar die dogtertjies amper nog nooit in 'n kar gery het nie (behalwe in hul ouma se golf), het Jon ons na aandete dorp toe geneem in die AVIS kar vir koffie en wafels by die Wimpy. Yuk vir die kar. Gee my maar 'n lekker bakkie enige dag!
Vanoggend het Kevin se kar gebreek op pad na ons en dus het die dogtertjies eers alleen in die sirkel perdgery terwyl ek oggendwerk klaargemaak het, en daarna het ek en Hopey saamgeloop op 'n toer deur die perdekamp. Wetenskapskool, want dis Vrydag, en Firn het 'n kristal-eksperiment vir haar verjaarsdag gekry. Die dogtertjies was skoon beangs na al die waarskuwings oor die gevaarlike chemikaliee, dat Firn glad nie wou meedoen aan die eksperiment nie, en ek en Rain meeste van die werk gedoen het. Nou wag ons net vir die kristalle om te groei ...
Ook Zoologie gedoen - ons behandel op die oomblik voelvere en ons het 'n veer onder Firn se mikroskoop bekyk, een geteken met byskrifte, en geleer oor die verskillende soorte vere en hulle funksies.
Tot my uiterste skaamte moet ek erken dat ek die dogtertjies 'n paar stukke droewors in die hand gestop het vir middagete, en my bedwaarts gewend het. Rain het my verlede nag rondom 01:00 geroep, en nadat ek met die wankelende leertjie opgeklim het na haar bed was ek wawyd-wakker. Ek het eers hier by 03:30 weer aan die slaap geraak, en moes 05:00 weer opstaan. Vandag was dus 'n vakerige en grumpyrige dag.
Amigo is vee-arts toe omdat hy vanoggend niks ge-eet het nie, en gediagnoseer met 'farm gut' - so genoem omdat plaashonde alles van koeimis tot ou nageboorte munch. Gelukkig net 'n paar inspuitings en 'n kursus antibiotika. Hy's darem nie te siek om my te help om die koeie vir middagmelk te gaan haal nie.


Wed, 27 Feb 2008 19:14:04 +0200:Organisasie


Ai, ek wens ek was 'n goed-georganiseerde mens, en nie iemand wat, soos dit vir my voel, heeldag rondhardloop en vure doodslaan nie!
Vandag was veral erg, want Aletta is op verlof en Patrick, wat in haar plek onder andere die kalfies se bottels moet maak, het dit heeltemal te kompleks gevind. Ek moet bieg, ek't verlede nag al 'n bietjie wakker gele oor die bottel-makery, want nie net is daar kalfies in verskillende stadia van speen nie (en dus drink hulle 1.5 of 1 liter in plaas van die gebruiklike 2), maar ons het ook mastitis en ander antibiotika-onttrekkingsmelk, en die mastitis-melk kan slegs aan bulkalfies gegee word. Ek't in die verlede probeer om vir Patrick 'n tabel te maak, maar die kon hy nie lees nie. Firn het dus vandag 'n kaart geteken van elke kalf in sy/haar hok, met 'n "S" of "D" (vir 'seuntjie' of 'dogtertjie'), asook 'n aanduiding van hoeveel melk elke kalf moet drink. Vanoggend het ek die bottels gedemonstreer, vanmiddag moes hy dit sonder toesig maak omdat ons by ballet was. Nou ja, als was heel OK, behalwe vir die twee versies, Tioctan en Pandemonium, wat noodgedwonge seuntjie-bottels moes drink. (Navorsing toon dat voer van mastitis-melk aan versies mastitis by hulle kan veroorsaak wanneer hulle in melk kom).
Rain het deelgeneem aan 'n inkleur-kompetisie by ballet, en haar hele hart en siel in die prentjie uitgestort. Sy maak toe vanoggend 'n ligte blaps, en vir haar is dit die einde van die aarde. Sy't gehik en gesnik sonder ophou. Haar hondjie, Lady, het probeer troos, Firn het probeer troos, en ek het woes probeer troos, maar sy't omtrent 15 minute lank gehuil en ek moes hard werk om haar te kalmeer. Uiteindelik het ek die situasie gered deur self 'n bietjie in te kleur en sterretjies op te plak. Toe kom die volgende krisis: Rain hou so baie van haar prent, sy wil dit ingee maar ook hou. Briljante Mamma dink nog 'n plan uit - ons sal die prentjie scan voor ons ballet toe gaan. Maar net daar val die wiele af: ek kook middagete, toets ons melktenk, pak bok- en koeimelk vir kliente, stoei om 'n afskrif van Jon se verklaring oor die gesteelde bakkie uit die halsstarrige polisie te kry, en daar vergeet ons om die prent te scan. Rain onthou dit op pad terug van ballet af, en ons het weer 'n tranedal! Ek moes hand en mond belowe om Tannie Vida te vra of Rain asseblief haar prentjie kan terugkry, want, so se sy, Daddy het dit nie eers gesien nie!
Nou ja, party mense sal seker se ek is te inskiklik, maar dis 'n les wat ek self lank aan geleer het - om jouself in 'n ander een se skoene te kan plaas. Vir my is dit 'n groot bohaai oor 'n silly ou prentjie, maar vir Rain is dit 'n belangrike kompetisie waarvoor sy regtig hard gewerk het, en ek moet dit kan insien en verstaan.
Met die tranedal in die oggend is skool ietwat vertraag. Ek het uit Narnia gelees, en uit 'The Care and Keeping of You', Firn het 'n Penmanship toets gedoen, en altwee die dogtertjies het hul Wiskunde gedoen. Ek en Firn is ook besig om so saam-saam 'Pinto' te proeflees - ons het vandag so 4 hoofstukke gedoen.
'n Tuisskool-ma skryf in 'n e-pos: "Tuisskool sien ek as 'n tyd wat ek belę in my en my kind se verhouding. Die akademie is 'n bonus." Ek begin ook al meer so voel, maar tog is daar 'n stem (my jeugjare?) wat kerm en kweel oor die akademie! Dus bekommer ek my woes oor die min tyd, so voel dit my, wat ons aan akademie spandeer.
Ter afsluiting: Iets moet ek doen om die "Mamma, ek kan nie my (enigste) dorpskoene kry nie!" 5 minute voor ons ballet toe ry, af te weer. Ek wil so graag meer georganiseer wees, met dae wat seepglad verloop! Maar hoe?


Mon, 25 Feb 2008 18:28:57 +0200:11 jaar oud!


Firn se partytjie, Saterdagmiddag- en aand, was absoluut manjifiek. Kon nie meer perfek gewees het nie. Omstreeks half-twee die middag is twee bakkies met 11 kinders en 4 grootmense op Hydeaway Farm weg, op pad na Rietvlei Natuurreservaat naby Irene. Weens die horde kinders en bagasie, was ek en Jon en die bagasie alleen voor in die bakkie, en ons het 'n hond uit 'n bos gesels. Dit was heerlik en die voorbereiding op 'n absolute perfekte middag en aand.
By die Visarend-lapa, langs die Rietvleidam, aangekom, het die twee mans die braaivleisvuur aan die gang gekry, terwyl die kinders hulself vermaak het met musical chairs, bok-in-die-hok, wegkruipertjie en allerhande ander lekker speletjies. Ek en Juanita het heerlik geklets, veral omdat Rain haar oor die 11-maande-oue Gabriella ontferm het en ons baie gehelp het met die oppas.
Jon en Henk het die hoenderstukkies perfek gebraai, en na 'n lekker ete is die koek ('n ronde koek, omdat dit moes reis) met 'n stunning buffel (deur Jon in versiersuiker ge'sculpt') tevoorskyn gebring. Na die koek-eet was daar net tyd om almal se party packs uit te deel, voor ons gidse, Magda en Jeannie, ons in 'n safari-voertuig kom haal het vir ons twee-uur-lange 'nagrit' - van net voor sononder tot so net na agt. Ons het 'n hele spul diere gesien, onder andere 'n steenbokkie en rietbokkies wat ek nog baie min gesien het, maar die kersie op die koek was die trop van 35 buffels wat ons van naby af gesien het. Firn is heeltemal mal oor buffels, en dit was haar groot droom om hulle te sien.
Die twee gidse was uitstekend en ons het almal baie geleer. Hulle het die kinders baie aangemoedig om vrae te vra, en almal het woes deelgeneem, selfs die 4-jarige Joshua het 'n paar stewige bydraes gelewer met 'Wanneer sien ons die lenostels' en 'Wanneer sien ons die klokodille?'
Wat veral vir my sal bybly van die middag is die groter kinders se bereidwilligheid om die kleintjies in te sluit by hulle spelery - hier dink ek veral aan Rain (8) en Gabriella (11 maande), en Illa (11) en Joshua (4). Ons bure se dogtertjies het elke keer met musical chairs 'gekroek' dat die kleintjies kon wen, en Firn was heeltemal tevrede dat Joshua haar help om haar kersies uit te blaas.
Ek het 'n paar foto's geneem, en ek sal dit op my blog probeer plaas wanneer ek 'n kansie het.
Ek en Jon begin al klaar aan 'n verskoning dink om nog 'n partytjie daar te hou - miskien ons twaalfde huweliksherdenking in Mei.


Thu, 21 Feb 2008 20:00:41 +0200:Die Vreeslike Humeur


Ek't gister en vandag my aan iets skuldig gemaak wat ek regtig byna nooit doen nie: Ek't op iemand geskree. Gister op 'n onbekende familielid van ons voorman, Job, wat sy telefoon geantwoord het. Ter verduideliking - Job is op verlof, maar in ruil daarvoor dat hy altyd op 'standby' is wanneer hy op verlof is, verskaf ons 'n redelike goeie Nokia met 'n kamera in, en 'n klein kontrak van R75 lugtyd per maand. Gister was ek desperaat om hom in die hande te kry, en daar is hy nie by sy foon nie. Dus, "Where IS HE" teen top volume oor die telefoon geskree. Hom later in die hande gekry; nog later weer gebel omdat ek om verskoning wou vra oor die onvergeeflike gegillery, maar kon hom weer nie kry nie!
Ek moes Job bel omdat die blik waarmee ons die koeie se voer afmeet, weg was, en in stede daarvan het hulle, so kom ek gisteroggend agter, van Maandagmiddagmelk al 'n verkeerde, kleiner blik gebruik. Maar die gegillery was bloot frustrasie omdat ek so min in die melkstal kom dat ek dit die derde dag eers agterkom. Iets moet ek doen om die ure te rek ...
Vandag weer op die dogtertjies geskree, net so onvergeeflik. Darem gou daarna omverskoning gevra, maar 'The deed is done'. Die rede: Die alewige sibbetwis. Dalk omdat ek nie 'n voorbeeld het nie (my enigste suster is 18 jaar ouer as ek en kon net sowel op 'n ander planeet gebly het, 'n regte 'city mouse' teenoor my 'country mouse'), sukkel ek dit om die verskriklike stryery te hanteer.
Die stresvlakke was hoog na Jon se bakkie Dinsdag gesteel is, en na ons tweede melktenk gebreek het en ons gesukkel het met die mense wat dit moes regmaak. Ek DINK dis nou reg, ons gaan more-oggend in die reggemaakte tenk ('n berg geld later) melk, so hopenlik verloor ek nie more weer my humeur nie.
Skool gister het bestaan uit 'n skoolkoerant illustreer. Dis die tweede maal dat die dogtertjies 'n skoolkoerant vir laerskoolkinders illustreer, en hulle geniet dit baie. Behalwe vir die lees van die artikels, die navorsing op die internet om die illustrasies getrou te kry, en die nuwe woordeskat, leer hulle ook 'n belangrike les oor spertye en hou van beloftes. Firn het 'n (al se ek dit nou self) uitstekende Trevor Manuel geteken.
Vandag was ons op landbouskool. Darem Wiskunde gedoen, Firn het 'n penmanship toets gedoen, en ek het uit 'Narnia' gelees. Ook 40 kleinerige (100kg tot 250kg) kalfies deur die drukgang gejaag, geweeg en vir bosluise behandel. Rain het nog steeds woes skool gedoen, want sy's die amptelike skriba wat die diere se name moes vind, hulle nuwe gewigte inskryf, en vergelyk met die vorige gewig. Maths Made Real!
Die plaas is besig, soos altyd. Gister was 'n kalfie weg, en ons het lank gesoek voor ons haar gekry het. Bianca, 'n jong versie, en erge galkoors. Haar gister en vandag gespuit. Nog 'n 2-week-oue kalfie - Mona Lisa, gebore terwyl ons in Oos-Londen was- met ernstige diarree, haar ook gister en vandag gespuit. Beth, wat hierdie week gekalf het, se koors was vanoggend 39.9 grade, dus haar ook gespuit. En Grieta, die middelste blinde, het diarree en 'n koors van 40.6 grade vanmiddag. Haar dus ook gespuit. Job is op verlof, so ek gee die inspuitings, en dis regtig nie my gunsteling-tydverdryf nie.
Ook bakdag vandag; ek en Rain maak vanaand vir aandete snaakse toebroodjies wat soos Swiss rolls lyk, uit haar 'Felicity Wishes' boeke.


Tue, 19 Feb 2008 18:10:19 +0200:Ons afwesigheid verklaar


Ons het nie land verlaat nie (alhoewel Jon dreig, veral nadat sy bakkie vandag gesteel is), maar wel Gauteng. Van Saterdag 9 Februarie tot Saterdag 16 Februarie het ons, saliglik, vakansie gehou in Oos-Londen by Jon se ma-hulle. Die dogtertjies het, in kort, 'n fees gehad. Geswem in die see en lagune, vis gevang in Oupa Tom se twee damme, asook met 'n net in die lagune, saam met Ouma Pixie vir 'n uitgegroeide, hondmak kameelperd gaan kuier, na 'n olifantvertoning by 'n wildtuin gegaan en die olifante gevoer en gestreel.
Ek en Jon het 'n lunch-date gehad, net ons twee, 'n romantiese sit langs die see een aand, ook net ons twee, en lekker laat opgestaan. Ek't maar 'n bietjie admin gedoen, want dit MOES, maar darem ook lekker gerus. Vrydag het 'n tuisskoolma van Stutterheim met haar drie seuns (12, 12 en 13!!) die dag by ons spandeer en die kinders het hulle harte uit gespeel.
Donderdagaand was die elektrisiteit heelnag op die plaas af, en ek en Jon, en ons voorman, Job, het amper niks geslaap nie. Arme Job was op-en-af tussen sy huis, die kragopwekker en die melkstal, en ons het Eskom gas gegee en morele telefoniese ondersteuning aan Job. Saterdag, met die terugryslag, kon ek en Jon beswaarlik ons oe oophou! Ek't vir my die mooiste ding by 'n padstal gekoop: 'n geroeste stuk sinkplaat met doringdraad-hartjies rondom, waarop in wit geverf staan: Om met jou hele hart lief te he is soos om 'n deeltjie van die hemel te ontvang.
En hoe waar is dit nie! Gister, na 'n heel verkorte skool, is ons ballet toe en daar't ek 'n massiewe hoofpyn ontwikkel. Ons moes eers na ballet Aletta oplaai by die dokter en haar medisyne by die apteek gaan haal, en toe ons half-ses hier intrek, kruip ek omtrent bed toe. Maar het die dogtertjies my gepamperlang, gemasseer, drinks aangedra, 'n word-gou-gesond-kaartjie gemaak. Ek't sommer gou beter gevoel na hulle TLC.
Vandag se skool was weereens kort, want ek't nie Yolandie se inkopielys soos gewoonlik op 'n Maandagaand kon doen nie. Dus moes dit eers klaar en om alles te kroon het Beth, Firn se vers, vandag in die lang gras gekalf en dit het my 45 minute se rondloop gekos om haar en haar bulkalfie, Brosty, te kry (Beth is ge-KI met Frosty se saad, vandaar 'Brosty').
Darem Wiskunde, my lees, en Firn se lees ingekry. Ek voel net al meer gelukkige kinders is meer werd as 'slim' kinders. Einstein het gese: "The greatest scientists are artists as well. Imagination is more important than knowledge. Knowledge is limited. Imagination circles the world."
Wil ook net gou vertel: Ek en Apollo, en Firn en Hope, doen formele honde-opleiding saam met 'n spul ander honde en base op 'n Sondagmiddag. Hope was vrek stout, maar dit was 'n fees! Apollo for President.


Tue, 19 Feb 2008 17:55:33 +0200:Bewoording vir Goor, goor dae - 7/02/2008


Sondag, na oggendwerkies, gelukkig 'n vinnige oggendslapie ingekry en toe kom die skok: Daar's nie 'n DRUPPEL water op die plaas nie. Ons boorgatpomp het Sondagoggend nie gepomp nie en is heel moontlik stukkend. Soos met die elektrisiteit, is die huis nie die ergste probleem nie - die plaas wel. Ons het water nodig om te melk en te was, asook 'n BERG melk vir die diere om te drink. Ek en Jon het beurte gemaak om die firefighter (500 liter op 'n slag) by die bure se sementdam te gaan volmaak - male sonder tal. Jon en die werkers het Sondagmiddag, toe ander mense lekker middagete eet, probeer (onsuksesvol) om die boorgatpomp uit te trek.
Ek't omtrent 500 liter in emmers aangedra na die beeste se krip. Ons't in 'n klein plastiekbadjie gebad (Jon ook) en ons hande oor-en-oor in dieselfde water gewas. Sondag kon ek en Jon nog lag daaroor, maar Maandag was dit eens te veel. Jon kon nie gaan werk nie - hy moes help met die watervoorsiening en met die mense wat die pomp kom uitsorteer het. Lang storie kort, ons moes 'n nuwe pomp en motor koop.
So tussen-in doen ons Maandag skool. Wiskunde, my en Rain se lees, Firn doen Creative Writing en dit is dit. En dis 'n klein wonderwerk dat ons dit wel gedoen gekry het.
O ja, en Babe, Firn se vers, kalf - 'n versie, Babeica ('n beroemde perd uit die geskiedenis). Ek en Rain jaag ballet toe, Firn en Jon versorg vir Babe en Babeica en jaag agterna sodat altwee dogtertjies darem hul balletklasse haal.
FNB bel en se hulle soek ons agterstallige finansiele state soos in NOU. En ons finansiele stelsel op die rekenaar gee moeilikheid.
Dinsdagoggend breek aan, en ek en Jon, doodmoeg, staan 03:30 op want Jon moet 05:00 op die lughawe wees. Jon bring die dag in Durban deur, en ek veg moedig voort op die plaas. Eers wil die vakuumpomp nie werk nie, en ek moet Dairy Care uitkry om te kom regmaak. Ons begin 07:15 melk (in plaas van 05:30). 'n Groot vers, Nooientjie, wil nie eet nie. Niks nie. Rain en Firn swem in die blindes se krip (ons drie moes die blindes ontbyt gee omdat ons so laat begin melk het), Rain val en sny haar been op vier plekke, waarvan twee snye redelik ernstig is. Voor die vallery het altwee dogtertjies darem Wiskunde gedoen, Firn het Penmanship gedoen, en Rain het vir ons gelees. Na die vallery het ons niks verder gedoen nie - Firn het vir Rain geselskap gehou, op ons bed voor die televisiestel.
Ook 'n vrek besige dag, want inkopie-dag, Afgri en Dairy Care lewer af, Jannie kom haal sy varkmelk ...
Die werkers se vleis het ook ontdooi in die vrieskas weens die baie kragonderbrekings (ons was vir 'n hele paar uur sonder water en sonder elektrisiteit) en ek't dit alles vir hulle opgekook.
Jon kom Dinsdagaand skuins voor nege tuis en ontsmet en behandel eers weer Rain se wonde. Thanks, Jon!
Vandag redelik normaal. Braveheart, die bulletjie wat ons grootmaak, eet niks en ek spuit hom. Ons behandel al die speenkallers wat nog nie by die bul loop nie, vir bosluise. Ons behandel die agt honde vir bosluise. Tussendeur doen ons Firn se lees en my lees, asook ons ekstra boekie - 'The care and keeping of you', en daar eindig skool, want ons ry vroeer as gewoonlik ballet toe omdat ek die dogtertjies uitneem vir middagete - ons het dit woes nodig!
Hoe voel ek oor al hierdie goed? Vrek opstandig oor die feit dat als net moet aangaan - tussen al die fiasko's deur moet skool aangaan, LBS gedoen word, bestellings vir voer, medisyne en seep geplaas word, diere se behandelings ingesleutel word, almal moet gesond eet, op Dinsdae rapporteer 6 mense aan my en almal wil aandag he, en dit gaan broekskeur!
Ek soek 'n bietjie vakansieverlof. En as ek desperaat is, wil ek nie weet hoe Jon voel nie.


Thu, 7 Feb 2008 05:26:19 +0200:Goor, goor dae


Sun, 3 Feb 2008 12:11:42 +0200:Fabulous Friday


Die dogtertjies het Vrydag 'n heerlike dag gehad: perdry in die oggend, en 'n swempartytjie in die middag. Perdry was, volgens hulle, wonderlik. Hulle het in ons 'over-the-hill' kamp gery, waarvandaan mens 'n baie mooi uitsig oor die omgewing het, en ook die rooibok-rammetjie, wie ons 'Rover' gedoop het, gesien. Altwee het die volle les van twee ure gery, en hulle was maar redelik gedaan en min geinteresseerd in die Zoologie wat op die perdry gevolg het.
Ons is besig om meer te leer oor voelvere, en ek't eintlik 'n stappie op die plaas beplan vir die naweek, om vere op te tel. Dit lyk egter nie vir my of ons daarby gaan uitkom nie.
Die swempartytjie was pure genot. Die dogtertjies het net uitgeklim om handevol tjips en lekkers te gryp, en die grootste deel van twee ure in die swembad deurgebring. Hulle was dus goed moeg Vrydagaand, maar wou opsluit vir Jon wag om by die huis te kom - hy was by 'n klient naby Sun City, en het eers skuins voor 9 tuisgekom. Teen daardie tyd kon die girls net-net hulle oe oophou, maar hy was skaars hier, toe snork hulle!
Saterdagoggend het ons al die kleiner kalfies (almal 7 maande en jonger) ontwurm, asook 10 kalfies ge-ent. Gelukkig het Jon gehelp, en ons kon dit vinnig-vinnig klaarkry. Die dogtertjies het 'n maatjie genooi om hulle perde-speletjie te kom saamspeel, en ons en haar ouers het eers buitekant onder 'n boom gekuier en daarna noodgedwonge in die huis, nadat 'n baie sterk bui reen uitgesak het. Arme Johan moes agterop Jon se bakkie staan en 'n braai vol vlammende kole beheer, terwyl Jon so een-een by die kontoere afry.


Thu, 31 Jan 2008 20:35:26 +0200:Als behalwe normaal


Ag, hoekom het ek tog Dinsdag as 'normaal' beskryf? Woensdagoggend kom Aletta, pas terug van verlof, in trane hier aan en dreig om te bedank. Nou ja, as Job (ons voorman) my regterhand is, is Aletta my linkerhand. Sy het naamlik 'n bakleiery aan die gang met die einste Job en Sanna, my nuwe huishulp, en sy wil loop. Net daarna kom Sanna aanmeld dat sy nie met Aletta oor die weg kom nie, en sy wil ook loop. Nou ja, ek't maar my trots in my sak gesteek en hul mooi gevra om aan te bly. Sanna dreig darem nie meer nie, maar Aletta wel. Ons het dus vanoggend om 05:15 (voor ons begin melk) 'n vergadering met Job gehad, en om 06:00 met Aletta en daarna Sanna. Saterdag volg 'n vergadering met almal, want hulle weerspreek mekaar heeltemal.
Tussen-in die aaklike vergaderings is Rita, ons groot blinde, amper dood. Ek't om 05:30 gesien daar's fout, suurpens gediagnoseer maar Jon geroep vir 'n tweede diagnose, en hy't 'n briljante diagnose van melkkoors gemaak. Briljant, want dit was duidelik reg, maar ook omdat dit out of the box thinking is, siende dat sy 3 maande terug gekalf het (koeie kry gewoonlik melkkoors binne 5 dae van kalwing). Ons het haar dus 100 cc CalciTad (kalsium), 10 cc kortisoon gespuit, asook 20cc penisillien en 'n sakkie Antacid per mond ingegee. Twintig minute nadat Jon haar gespuit het (5 inspuitings in die nek, terrible) was sy op, nadat sy plat was en amper dood. En om 10:45 het sy al haar brunch opge-eet. Mooi gedoen Jon, jy't Rita se lewe gered.
Maar nog is het einde niet - gisteraand het die koeltenk wat ons so pas gekoop het, se kompressor sy agterent gesien, en Buttercup het gekalf - 30 dae te vroeg. Dit beteken sy was slegs 30 dae droog, in plaas van 60, en sy't nie haar voor-kalwings Multimin of Vitamien A gekry nie, nog minder haar spesiale opstoom-kos met soute en minerale om melkkoors te voorkom.
Mens kon my gemoedstoestand vanoggend dus beskryf as down in the dumps. Ongelooflik watter verskil 'n goeie middagslapie kan maak, vanmiddag, met die slapie agter die blad en baie liefde en ondersteuning van Jon, Firn en Rain, voel ek heelwat beter.
Skool was, onder die omstandighede, nie te sleg nie. Gister Wiskunde en skrif gedoen, al drie se lees, en Firn het vir ons uit ons ekstra boekie, 'Die Stoutsterte', gelees. Vanoggend het ek laat aan die gang gekom, en die ekstra boekie het in die slag gebly, maar ons het darem al ons ander skoolwerk afgehandel. En horror of horrors, ek het Rain se bakdag vergeet! Ek't haar belowe ons sal dit inwerk - seker maar oor die naweek.
Ek wil ook byvoeg dat, ter aanvulling van die formele skoolwerkies wat ek elke dag beskryf, laat ons geen geleentheid vir leer agterwee nie. Baie vind plaas in die vorm van gesprekke, oor onderwerpe soos versekering, BTW, menseverhoudings (dit veral baie op die oomblik), werksetiek, en nog 'n klomp ander. Ek sal dit probeer onthou en ook neerpen as 'n rekord van die leerproses op Hydeaway Farm.
En Buttercup se kalfie het ek summier 'Baklei' gedoop. Die dogtertjies wou nog teepraat, maar ek wou niks hoor nie.


Tue, 29 Jan 2008 19:53:57 +0200:Doodgewoon


'n Doodgewone Dinsdag. Inkopiedag, en erger omdat die 5 plaaswerkers se maandelikse kruideniersware gekoop, gedeel en oorhandig moet word. Omdat die plaaswerkers slegs een maal per maand huis toe gaan, en ook om te verseker die hele loon word nie op airtime en klere spandeer nie, koop ons 'n maandelikse standaard-pakkie kruideniersware vir elke werker, bestaande uit (as ek alles kan onthou): 5 kg mieliemeel, 2.5 kg suiker, 500 g waspoeier, 100 teesakkies, 750 ml olie, 4 pakkies kitssop, 4 kg hoenderstukke, 4 kg aartappels, 1 groot blikkie pilchards, 1 klein blikkie pilchards, en 1 groot blikkie boontjies in tamatiesous. Dit klink dalk nie so erg nie, maar vermenigvuldig elke item met 5, en tel by ons weeklikse kruideniersware, plus 'n week se brood vir 6 werkers, en dis 'n hele berg!
Ek moes vandag gaan kalk laai so kwartpad teen die plaas af - 'n hairy rit, want dis nat en modderig onder die krip in die perdekamp waar ek moes deur die hek, oor kontoere, deur 'n nou gangetjie ... Dankie tog vir 4 X 4! En daar is die kalksakkies so swaar dat ek en Jabu dit saam in die bakkie moes laai. Ek moes dus uithaal en wys. En ja, ons het 'n plaassleepwa maar die ding se bearings is stukkend, en volgens diegene wat weet, is dit 'n 1947 Chevvie se as, en Jon kan die bearings in Nieu-Seeland kry, maar teen R1200 per bearing.
Met die kalklaaiery en tussen die inkopies deur het ons ekstra boekie vir skool weereens vandag in die slag gebly, asook Rain se leeswerk. Die dogtertjies het egter 'n baie goeie sessie Saxon Maths ingekry. Rain het al haar bewerkings (en onthou, dis Graad 4-werk) reg gehad; sy vlieg letterlik deur die werk. Firn, so 50 lesse voor Rain, doen dit maar langtand maar ook sy verstaan die werk goed. Ons het ook vandag die laaste hoofstuk van die vyfde Narnia-boek, Voyage of the Dawn Treader, gelees. Daar is dus nog twee boeke oor in die reeks. Firn het ook gelees, 'n Penmanship toets gedoen, en Rain het in haar resepteboekie, wat haar skrifwerk is, gewerk totdat haar arm heeltemal lam was.
Rain die koei se versie, Rascal, is nogal baie siek. Job het gister gesien sy's siek, ek't haar 'n langwerkende antibiotikum gespuit, en sy eet darem nog goed, maar haar koors was vanoggend 11-uur 40.4 grade, dus het ek haar maar ietsie vir pyn en koors gespuit en sy't darem al haar kos vanaand opge-eet. Raintjie (die kind) se koei, Shadow, is ook siekerig en ek't haar 'n langwerkende antibiotikum, 'n lewerstimulant, en Vit. B gespuit. Sy't ook vanaand al haar kos in die stal ge-eet.


Mon, 28 Jan 2008 17:57:02 +0200:Nie net nog 'n Eskom-storie


Wil maar net vertel ons krag was af van 19:40 Saterdagaand tot 07:00 Sondagoggend. Die gevolg was dat ek hul drie maal gedurende die nag gebel het, en Jon het drie of vier maal in die nag uitgegaan - om die kragopwekkers vol petrol te maak, om die koeltenk af te sit, om water te pomp voor ons begin melk. En dit was 'n hele comedy of errors, want Jon't die Eskom-bakkie sien wegry in die nag sonder dat hulle iets gedoen het; hulle't verkeerdelik ons fout 'geclear', hulle't nie hulpbronne gehad nie, nie ons telefoonnommer gehad nie ...
Saterdagoggend het ek die droe koeie, verse wat by die bul loop, en groot osse vir bosluise behandel. En toe volg my en Rain se magic, magic middag. 'n Vriendin het ons genooi na 'n Victorian Tea Party. Ons twee het ons mooi gemaak, oudtydse rokke en hoede aangetrek, en 'n High Tea onder 'n wilgerboom bygewoon - kompleet met botterbroodjies met room, muffins, pragtige silwer borde, en fyn porselein teegoed. Ons was drie vrouens wat aldrie meestal met diere werk en dus meestal vuilerig en verlonserig is. Dit was dus heerlik om 'n bietjie op te dress en fyntjies om die teetafel te sit. Dis maar 'n toss-up tussen wie dit die heel meeste geniet het - ek of Rain. En ou Raintjie het al klaar vir haar 'n waaier gemaak vir die volgende een - ons beplan om dit 'n gereelde geleentheid te maak; dalk so af-en-toe 'n minder fyntjiese tema, sodat Firn dit ook wil bywoon.
Soos dit ons drie dames betaam, is ons daarna die kallerhok in om sewe wilde vleiskallers te probeer leer botteldrink. Ek't huiswaarts gekeer met 'n paar melkblertse op my Victoriaanse tabberd.
Sondag moes ons 'n slaggie werk na al die kuier Vrydag en Saterdag. Ek't dus oggendwerkies gedoen, 'n vinnige oggendslapie gevang, 'n ordentlike, gesonde maaltyd voorberei en Sondagmiddag in die melkstal deurgebring. Jon het Sondaglaatmiddag die elektriese hek geinstalleer en ons het sommer by die hek gebraai, sodat hy tot donker kon werk maar steeds by sy gesin wees. Die dogtertjies het heerlik in die perde se kamp baljaar, en die mooiste foto's van die perde in die sakkende son geneem.
Skool vandag was goed, want ons het by alles - ons drie se lees, Saxon Maths, Penmanship/Creative Writing, en ons ekstra boekie, 'How to Count to a Googol' - uitgekom. Ballet is gekanselleer omdat die nuwe studio se vloer nog nat is, en ons drie girls het die geleentheid gegryp vir koek en tee in ons gunsteling-teetuin.
Plaasnuus is dat ek heelwat koeie opdroog op die oomblik - Rain en Star verlede week, en Nune en Kiske vandag. Dit beteken natuurlik dat ons melk ietwat val, met 'n gepaardgaande laer melktjek. Volgende om te kalf is Firn se vers, Babe, wat dan haar tweede laktasie sal ingaan.


Sat, 26 Jan 2008 12:15:09 +0200:Involve them, and they will understand


Die dogtertjies was gister poegaai na beide 2 ure in die saal deurgebring het. Perdry is die absolute hoogtepunt van Firn se week, en, dink ek, vir Rain ook baie lekker.
Ek moes dus hard werk om hul aandag te boei met Zoologie. Ons het onder andere geleer oor 'bird banding' en, om dit 'n bietjie meer werklik te maak, het ons 'n uil 'soft toy' gevang (in 'n sif, omdat ons nie 'n net gehad het nie), hom 'n bandjie om die voet gesit met 'n nommer, datum, en plek op, hom geweeg en sy lengte en vlerkspan gemeet. Net daar het ek toe hulle volle aandag en kon ons die Zoologie suksesvol afhandel.
Vrydagmiddag het ek die dogtertjies bed toe gestuur met 'n DVD om 'n bietjie te rus, en ek't ons per kapita-opgawe vir Jersey SA voltooi. As alles volgens plan verloop, het ons binnekort 83 geregistreerde Jerseys - 81 vroulike diere, 1 bul, en 1 bulkalfie wat ons grootmaak om as bul te verkoop - Braveheart, uit my gunsteling-koei, Manhu MMP May (by ons bekend as 'Bontrok'), en Haystack Mo Jake. Ek dink hy't die potensiaal om 'n uitstekende bul te wees, met dogters met goeie uiers wat lank hou (Bontrok is al 10 jaar oud!)
Vir 'n verandering Vrydagaand 'n bietjie uitgegaan - gaan braai by 'n vriendin wat verjaar het. Hulle boer met vleisbeeste, mielies, en perde 'n entjie anderkant Balfour. Sy't onder andere 'n klomp Friesperde, en daar is een, Timovee, wat my verbeelding heeltemal aangegryp het. Call me fanciful, maar ek het dadelik met hom 'n konneksie gehad.


Fri, 25 Jan 2008 10:31:01 +0200:Hydeaway Landbou- en Huishoudskool


As mens weer kyk, is dit Vrydag en Zoologiedag; die hele week is verby en jy't net twee dae se Saxon Maths agter die rug. Vandag se skool was ietwat droewig. Eerstens omdat dit Donderdag en bakdag was. Rain wou roomys maak, en omdat dit vir 5 uur moes vries, was dit die tweede aktiwiteit na oggendwerkies (net na Rain se voorlesing uit 'The Secret Unicorn'). Tweedens MOES ek vandag kalfies ent, want die entstof, wat 'n rukkie gelede al gekoop is, sou verval. Dus het ons 10 kalfies in skooltyd ge-ent. Derdens belowe ek Firn al lankal 'n trippie na kalahari.net, en ons het omtrent 'n uur spandeer aan boeke kies en koop.
Dit is wat ek gekoop het:
Vir Firn: Born Naked: The Early Adventures of the Author of Never Cry Wolf, en Guards! Guards!: A Discworld Novel. Vir ons almal, die oudio CD Lord of the Rings / J.R.R. Tolkien (Audio): The Fellowship of the Ring. Vir my: Above All, Be Kind: Raising a Humane Child in Challenging Times. Vir Rain: My Secret Unicorn: Flying High: AND Starlight Surprise, en die DVD Flicka.
Daarna het ek uit 'Narnia' gelees - geeneen van ons wil DIT mis nie, want ons geniet die reeks (ons is amper klaar met die sesde boek) vreeslik baie. En daarna was dit tyd vir middagete, en ons kanse vir verder skool verby.
Vanmiddag was ek die hele middag in die stal, want dis ses weke na die koeie se vorige bosluisbehandeling, en ek het dus die lakterende koeie behandel (sommer so in die tandemhok, net na elkeen gemelk is).


Wed, 23 Jan 2008 19:33:18 +0200:Storiesomme


Vanoggend sommer vroeg-vroeg gesien iets skort met Firn. Ek het ook nie op my beste gevoel nie; Rain roep my weer so twee of drie nagte elke week, en dit beteken op die vloer langs haar bunkbed slaap. Ek't eers met Firn kop-aan-punt geslaap, maar Firn raak dan so ongemaklik dat sy by Jon inspring, en heelnag 'toss en turn' die twee.
Ek't Firn gevra wat skort, en sy voel gefrustreerd. Daar-en-dan Saxon Maths afgekry met die belofte dat ons 'lekker' Wiskunde sou doen vandag, en het dit GEWERK! Firn se frustrasie het verdwyn en die daaropvolgende storiesomme was baie suksesvol. Elkeen (insluitend Jon wat tuis gewerk het vandag) het 'n beurt gekry om 'n storie te vertel. Enigste vereiste was dat die storie vol storiesomme moes wees. Firn het vertel van haar fantasie-wereld, Miraclan, en in Rain se verhaal het die Engelse teen die Amerikaners geveg. Lekkerste was dat ons almal dit baie geniet het, en Ma het ook heelwat geleer uit Die Pa se moeilike plaas-somme!
Met die la-a-ng storiesomme-gedoente het ons nie vandag by ons ekstra boekie, 'Die Stoutsterte', uitgekom nie, maar al die res is darem gedoen. Tussen-in ook onderbreek vir nog 'n siek kalf (Plop-Innie-Sand). Die aanhoudende nat weer begin nou sy tol by die jonger diere eis.
Ballet ook baie lekker; Rain het heerlik met 'n maatjie gespeel terwyl Firn ballet het, en Firn speel weer met die twee maatjies wat saamrygeleentheid kry terwyl Rain ballet. Op pad terug huis toe, het Jon my uitgenooi vir aandete by Wiesenhof en ek en die dogtertjies het net daar omgedraai terug dorp toe. Lekker ge-eet en gedroom oor 'n nuwe bakkie vir Jon wat ons so rondom Meimaand wil aanskaf.
Ook uiteindelik vandag vir ons 'n nuwe plaaskoeltenk gekoop, maar 'n kleintjie - 650 liter. Ons het dus nou twee 650 liter tenks en een 850 liter tenk.


Tue, 22 Jan 2008 18:59:51 +0200:Work hard, play hard


Die 'play hard' deel was ons naweek by die Postkantoor (www.wheretostay.co.za/klipkraal). Ek't Saterdag 2 oggendslapies en 2 middagslapies ingekry, en dit Sondag weer probeer doen, maar hier by die tweede middagslapie was ek uitgeslaap ...
Ook lekker volleyball gespeel, Saterdagaand saam met vriende gekuier, Rummy-O gespeel, en die kinders het ver fietsgery (met ons in die bakkie agterna) en baie, baie geswem in die dam voor ons blyplek.
Vrydag se perdry was great. Firn het 'n hele 2 uur in die saal spandeer, en Vrydagmiddag was sy gedaan. Rain het alleen gedraf op Rivr, en beplan om volgende Vrydag te handgalop. Vrydagoggend het ek die plaas voorberei op ons 2-dae-afwesigheid, en ingepak, en dus geen skool.
Gister se skool was, teen die verwagting in, baie suksesvol. Lees en Wiskunde gedoen, asook ons ekstra boekie, wat Maandag 'The Weather' behels. Geleer van weerpatrone, 'n eksperiment gedoen om te illustreer hoe die son se strale op die ewenaar en op die pole val, en 'n kaart van Afrika bestudeer en Suid-Afrika ingekleur. Ook tussen-in uitgepak, modderbesmeerde fietse gewas, berge wasgoed gewas en gevou. Gistermiddag ballet toe, en die dogtertjies het dit baie geniet. Die balletjuffrou se dogtertjie, in Graad 2, het een van Firn se boeke (The Tale of Sky) vir haar book report gebruik, en Firn is hoogs in haar skik. Ook gister 'n onderhoud met 'n voornemende huishulp gehad en haar voorlopig aangestel.
Dinsdae is besige dae. Inkopiedag, Afgri lewer af, werker gaan op verlof en moet betaal word. Dus vandag, saam met twee siek kalwers en 'n nuwe huishulp om op te lei, my agterent af gehardloop. Maar skool weereens baie goed; Lees (ons aldrie) en Wiskunde, Firn het 'n Penmanship toets gedoen (Matthew 6:19-21), en vir ons ekstra boek 'How to Count to a Googol'.
Ons Jack Russel, Whiskey, het 'n bloeding onder die vel in die nek en Jon en Firn het hom Dokter Louis toe geneem. Dr Louis het dit oopgemaak (Whiskey met 'n muzzle aan) en ons sal dit moet skoon- en dophou tot Vrydag, wanneer hy weer moet gaan as hy nie beter is nie. Maar dit verhoed hom nie om vir Amigo (wie heel waarskynlik die bloeding veroorsaak het) te grom nie.
Naskrif: Die klein siek bulkalfie, Maverick, is vanaand dood. RIP Maverick (15/1/2008 - 22/1/2008).


Thu, 17 Jan 2008 18:51:32 +0200:Die kliniese en die gevoelvolle



Vandag begin ek met twee aanhalings - een koud en klinies en oor iets wat ek WOES moet doen op die oomblik, anders kry ek glad nie my draaie nie:
A.A. Milne once said, "Organizing is what you do before you do something, so that when you do it, it is not all mixed up."
En dan, iets wat my aan die gang hou en geduldig hou met die dogtertjies, al raak dit soms 'n bietjie erg:
"Every act of love is a work of peace, no matter how small." ~ Mother Teresa
Gister 'n onderhoud met 'n kandidaat-huishoudster gehad - ons sal maar sien. Weens die inry dorp toe die oggend vir die onderhoud het ons ekstra boekie - Stousterte - in die slag gebly, maar al die ander skoolwerk is gedoen.
Dit was ook die eerste ballet-dag van die jaar. Firn is hoogs disgusted omdat hulle hierdie jaar pienk alles dra - leotards, rompies, sokkies en skoene. Ek laai hierdie jaar twee girls op wat in Firn se klas is, en 'n bakkie met vier klein dogtertjies is, so het ek gister uitgevind, hoogs luidrugtig. Arme Josh probeer sy bes, maar hy kan die vier nie doodsing nie.
Vandag was weer bakdag, maar 'n bakdag van 'n ander geur en kleur. Rain het naamlik 'n 'bokskoek' gebak, terwyl ek voete-in-die-lug sit en toesighou het. 'n Vriendin wat haar Graad 8-dogter hierdie jaar begin tuisskool het, sou kom kuier met haar 5 kinders, dus die 'bokskoek', maar sy kon op die ou end nie haar draaie kry nie. Die dogtertjies het egter baie fun gehad met die koek se versier, hul verbeelding vrye teuels gegee, en met 'n regtige mooi koek vorendag gekom.
Ons het ook al ons skoolwerk ingepas. Firn is klaar met haar grafiek-ondersoek, en het 'n Wiskunde-les sonder veel insette van my klaargemaak. Ons het egter Die Pa se hulp nodig met 'n kombinasie van breuke en sirkels wat ons twee ietwat uitgeboul het. Rain het ook hard gewerk aan haar Wiskunde - altwee gemotiveer omdat ons more heel moontlik geen skool gaan doen nie - ek pak, want ons gaan dalk weg vir die naweek.
Firn het gister die Phantom Stallion waarmee sy besig was, klaargelees en ons het vandag met #6 in die reeks begin. Sy is hartlik siek vir die boeke, wat sy as 'nie goeie literatuur nie' beskryf, en ek geniet dit op my beurt vreeslik baie. Sy sal dus hierdie boek nog klaar lees, maar dan sal ons 'n werkbare kompromis moet bereik.
Vir ekstra werk vandag het ons uit 'Stoutsterte' gelees, wat beteken 'Care and Keeping of You' bly agterwee vir hierdie week. Ek sal in plaas daarvan hulle maar woes gas gee oor hulle persoonlike higiene.
Ek't nie rerig nuus oor Jon nie, behalwe dat ek hom erg mis. Maandag was hy in Durban vir die dag, Dinsdag in Isando, Woensdag by 'n klient naby Sun City en vandag in Boksburg. Darem vanaand so 18:30 tuis gekom. Doodmoeg.
En vir die van julle wat nie weet nie: Melkkoeie ruik ongelooflik lekker. Net so lekker soos perde en pasgebore babatjies.


Tue, 15 Jan 2008 17:15:24 +0200:Ons speel alweer Catch-Up


Perdry Vrydag is uitgestel na Maandagmiddag weens die reen, maar Vrydag is nou Wetenskapdag, en dus het ons 2 soliede ure aan ons Zoologie spandeer.
Saterdagoggend, na oggend-plaaswerkies, het ek 'n bietjie die huis getakel en netjies gemaak. Dalk het ek 'n voorgevoel gehad, wie weet, want toe ek Maandagoggend vir Cornelia aanvat omdat sy 4 uit 10 keer wat sy terug moes kom na 'n naweek laat was, bedank sy summier en net daar. Nee, sy werk nie tot einde Januarie nie. Nee, sy werk ook nie net nog 2 dae nie, sy loop NOU! Nou ja, dis 'n bietjie van 'n nare slag vir my, want ek is klaar oorwerk en moeg.
Sondagoggend het vriende na oggend-plaaswerk kom brunch eet, en gebly tot net voor my middagslapie. Ons kon dus 'n vinnige uiltjie knip voor SOM (start-of-milking) Sondagmiddag.
Maandag se skool was 'n bietjie kort, want ons moes registreer vir ballet en ek't besluit om dit in die oggend te doen, om die middag-rush te vermy. Lekker tee gedrink en gekuier by die balletjuffrou, en dus het Maandag se Weerstudies en Wiskunde in die slag gebly.
Perdry Maandagmiddag was heel geslaag, maar arme Skye het Sondag, toe 'n pragtige hings verbygegalop het, 'n spier getrek (Kevin se omdat sy met die hings wou gaan flankeer) en dus het Firn meestal op Rivr gery. Die perde is ook ontwurm, en die honde het ons Vrydagoggend vroeg gedoen, dus is almal behalwe die bokke en die mense se ontwurming nou op datum.
Jon was vir die dag in Durban en dis maar 'n baie lang dag vir hom - hy't 04:00 gery en so skuins voor 21:00 weer tuisgekom.
Vandag se skool was meer geroetineerd en suksesvol. Ons aldrie het gelees; die dogtertjies het baie hard en akkuraat gewerk aan hul Wiskunde, en ons het uit ons ekstra boekie 'How to count to a Googol' gelees. Ons het ook die laaste verjaarsdaguitnodigings klaargemaak.
Firn het ook toesig gehou en seker gemaak drie klein bulkalfies word reg gekastreer. Dus 'n bietjie-van-als skool vandag.


Thu, 10 Jan 2008 19:29:12 +0200:Sjoe! Nog 'n bakdag verby!


Donderdag en bakdag. Ek en Rain het 'n sjokoladekoek uit die lae-GI boek getakel. Dis 'n verskriklike ingewikkelde resep met eienaardige bestanddele, insluitend gekookte en fyngemaakte patat en gerasperde appel vir die beslag, en versiersel wat hoofsaaklik uit maaskaas bestaan.
Hier is die koek, wat vandag baie van ons tyd in beslag geneem het:

Ek wil eers gou vertel van ons skooldag, voordat ek by my hoofonderwerp van die dag kom. Weereens goed: Wiskunde het baie van my tyd geverg (soms doen hulle alles sonder my hulp), want Rain is besig met place values en ek moes heelwat verduidelik; Firn is besig met 'n 'Investigation', naamlik grafieke, en ek doen dit saam met haar. Vandag het ons 'n pictogram geteken. Die boek se voorstel oor gunsteling-koeldrank is by die venster uitgegooi en ons het gunsteling diere gedoen. Firn moes onder andere 'n halwe koei en 'n halwe kat teken. Almal het gelees en ons het tot by ons ekstra boekie, 'The Care and Keeping of You', uitgekom. Firn het ook Creative Writing gedoen, maar Rain het haar werk in haar resepteboekie vrygespring deur middel van 'n baie lang toiletbesoek, waaroor ek nog steeds agterdogtig voel ...
Ons het ook vanoggend vier kalfies wat gespeen word, ge-ent en hulle multi-vitamien inspuitings gegee, so tussen die koekbakkery deur. En ek het amper 'n hele uur ononderbroke in die melkstal spandeer vanoggend, hoera.
My geween en gesteun en gekners van tande vandag is die alewige sibbetwis ('sibling rivalry') wat my regtig teen die mure uitdryf. Ek het vandag hoevele kere vir Rain gedreig om bakdag te kanselleer, en Firn gedreig met rekenaar wegneem. Hulle is maar net GOOR met mekaar met tye, en net daarna speel hulle dat die biesies bewe. Dit gebeur so ongeveer eenhonderd keer per dag.
Ek kan voel dis Donderdag. Hierdie week was ek baie gesteld op my uiltjies knip in die middag, maar ek is nogtans redelik moeg. More is perdry en die normale skoolroetine word opsy geskuif vir perdry en daarna 'n lekker lang sessie Biologie (belangrik vir Firn, wat 'n vee-arts wil word).


Wed, 9 Jan 2008 18:04:42 +0200:So Not Back To School 2008


Vandag was 'So Not Back To School' dag. En ons het dit gevier! Maar eers ... die dag het heel goor begin, want Jabu het eers vanmiddag 15:30 kom werk, in plaas van 05:30, omdat sy seun deur 'n motor raakgery is en in die hospitaal was (of so beweer hy, wie sal ooit weet?). Dit het beteken dat Patrick in sy plek saam met Job moes melk, en ek Patrick se werk moes doen, wat behels: Drie blindes (met baie stampe, stote, en kom, kom, kom) inbring stal toe en weer uitneem na hulle kamp; die ander koeie injaag in die ingangkamp nadat die blindes veilig in die stal is; kalfies hulle kragvoer gee; Firn help om die bokke te melk; die verse wat by die bul loop, groot osse en bul hulle kragvoer gee. Ek was dus baie gereed vir ons So Not Back To School-ontbyt by Wiesenhof, wat hier rondom 10:15 eers afgeskop het.
Hier is Firn. Sy eet elke keer dieselfde; ons het ook ons gereelde kelner wat al uit sy kop weet wat almal gaan eet en drink.

Ek moet darem ook 'n foto van Raintjie plaas. Hier is sy in die 'Bench Knee Tree' besig met haar en Firn se speletjie met die perde. Dit neem elke dag langer as 'n uur in beslag:

Min tyd vir skool dus; net uit Stoutsterte gelees en Firn se partytjie-uitnodigings ontwerp en een of twee gemaak. Hierdie jaar hou Firn 'n partytjie by Rietvlei Wildreservaat op 23 Februarie, die dag voor haar verjaarsdag. Ons gaan braai in die lapa van 15:00 tot 18:00, en dan 'n nagrit he. Die uitnodigings is stunning - ons het ons gunsteling skryfbehoeftewinkel ingevaar vanoggend en GEKOOP.


Tue, 8 Jan 2008 17:41:26 +0200:Nog aanhalings


Ek wil graag hierdie aanhalings, ook uit 'How the Brain Works' in die nuutste 'Your Child', onthou:
'Brains are not crammed with facts, but taught to access information, to question, to reason and to communicate a point of view. Most importantly, children learn to appreciate and love themselves and each other.'
'The average primary school child has a longer day than the CEO of a major corporation, and they don't have the brain structure in place to cope.'
'Tell them and they will forget, show them and they will remember, involve them and they will understand.'
'Combining movement with learning maximises the storage and recall of information.'
'The pattern of your physical and emotional health is laid down in childhood.'
'Many parents and teachers believe that putting pressure on their kids to achieve helps to 'toughen them up' and prepare them for life. Nothing could be further from the truth.'


Tue, 8 Jan 2008 17:32:21 +0200:Julle Moet BEPLAN


In my universiteitsdae het ek dikwels op 'n plaas in die Karoo gekuier, en die boer se mantra was 'Julle Moet BEPLAN'. Nou weet ek hoekom!
Ek en Jon het so 'n week of twee gelede vir my 'n weeklikse beplanner ontwerp. Dit bly op my clipboard, het plek vir 7 dae op een bladsy, met kolomme vir elke dag, en in die rye 'n blokkie vir my en elkeen van die werkers, asook die volgende rye: Tell Staff; School; Lunch; Supper; Unplanned Treatments; Tell Jon en Requests. Nou regeer Jon, my clipboard, my workflow stelsel en my foon se calendar en clock alarms my lewe, om nie eens van die dogtertjies en die diere te praat nie.
Vandag darem die meeste van my beplande take ingekry. Skool weer suksesvol, met lees, Wiskunde, Penmanship (vir Firn), Kookklas (vir Rain) en ons ekstra boekie vandag is 'Can you count to a Googol', waarin Rain vir ons gelees het - en sy't aangebied! Ons het vandag ook sommer die skooltrommel reggepak en lekker gelag vir watter 'eenvoudige' goed ons in 2006 gedoen het.
Mens kan amper nie glo dat dit so 'n gesukkel was om vir Rain aan die lees te kry nie. Sy lees nou spontaan en uit eie beweging en behalwe vir die wil en die selfvertroue het die leesvaardigheid self ook baie verbeter. I'll take a bow, dit het baie geduld en amper net soveel vasbyt geverg om tot hier te kom.
Firn en Rain het vanmiddag alleen vir Skye gevang en opgesaal, en altwee 'n bietjie onder my wakende maar onkundige oog gery.
Vandag was ook inkopiedag en dus het ek omtrent glad nie in die melkstal gekom nie - iets wat ek more moet regstel.


Mon, 7 Jan 2008 17:25:41 +0200:Catch-up


Baie het gebeur sedert Donderdagaand. Vrydagoggend is ons besoek deur Jersey SA, wat ons eerste-laktasie geregistreerde verse kom klas het. Anemay was eerste van die agt, met 86%. Daarna was, in volgorde, Capuccino, Kiske, Rain (die vers!), Curly, Line, Jane en Star laaste met 78%. Star is my gunsteling onder die 8, so ek was 'n bietjie teleurgesteld in haar punte. Dit was egter baie interessant en ons onmiddellike projek is om al ons vroulike diere wat as 'Jerseys' kan deurgaan (dit beteken, in kort, wit neusies en pienk speentjies), as Appendix B te registreer. Hoogs opwindend!
Lieflike reen gehad Vrydagoggend (en Saterdagnag), maar dit het nie perdryles Vrydagmiddag verhinder nie (arme Kevin, ek moes, op die dogtertjies se aandrang, hom aanmekaar bel om te hoor WANNEER kan hy kom) waar Rain vir die eerste keer op Rivr gedraf en Firn vir die eerste keer op Skye handgalop het. Vrydagaand saam met vriende om die koffiekoppies gekuier hier by ons - so laat dat ek die hele naweek net wou slaap.
Saterdag die dogtertjies by vriende afgelaai en die oggend in die dorp spandeer. Saterdagmiddag was ek en die dogtertjies by Carolina se ooievaarstee. Ons het vir haar 'n omnibus van die Farmer Firn-stories in kleur gedruk en laat bind vir haar kosbare bondeltjie wat middel-Mei haar opwagting maak.
Sondag in die bed gele tot 05:30, want dit was Jon se beurt vir 'walkabout'. Vinnig honde kos gegee, en ons vier is hier weg (was ook onder andere Saterdagoggend by die dokter vir 'n roetine-besoek, sy beveel 'n vakansie aan) na Suikerbosrand Reservaat. Jon en die dogtertjies het die rit baie geniet, en ek ook, maar om 'n duistere rede: ek het naamlik die hele rit deur op die agtersitplek geslaap. Tuis gekom, en weer geslaap, en na middagete weer! Ek voel ietwat beter, maar nog steeds nie uitgerus nie!
Vandag se skool (wat onderbreek is deur 'n dissiplinere verhoor, darem nie te sleg gegaan nie) was weer goed. Ons al drie het uit ons onderskeie boeke gelees, die dogtertjies het elk Wiskunde gedoen (Firn elke liewe berekening reg, Rain net een verkeerd - 18+3=20 - ons het gewerk uit ons boek oor die Weer en die dogtertjies moet elke dag 'n weerkaart invul die week, Firn het in haar Creative Writing en Rain in haar resepteboek gewerk.
O ja, Sondagmiddag het Khyba gekalf, 'n groterige (37kg) bulkalf genoem Koelleps (na my 'collapse' Sondagoggend) en vanoggend het sy die hele bottel vol gemelk - sy't 23 liter gegee!

Ten slotte 'n aanhaling of twee uit die Your Child (Jan/Feb uitgawe):
"Investing the time in building a loving relationship with your children is far wiser than spending time and money on extramural activities"
"Quality time filled with love is the best healer. Love has been proven to be one of the most effective tools in de-stressing children."
"Co-operation is replacing intense competition in some areas of schooling. The entire business world is about working co-operatively."


Thu, 3 Jan 2008 17:48:18 +0200:Bakdag


Donderdag is bakdag, en vandag het ek en Rain 'n ingewikkelde resep - uit die Lae GI-boek - vir Chocolate Brownies getakel. Die resep bevat onder ander 'n groterige blikkie wit boontjies en 'n blik pie apples, so ek was nie hoopvol oor die resultaat nie. En daar is dit toe (na een uur se voorbereiding en 45 minute se bak) 'n reuse-sukses en die dogtertjies is mal daaroor.

Ek't 'n maatjie genooi om te kom speel vir die dag, en die dogtertjies lekker bak-en-handwerk-skool belowe. Die ma het ongelukkig vergeet en in alle regverdigheid is die dogtertjies Wiskunde kwytgeskeld vir vandag. Ons het instede dankie-se briefies vir Oupa en Ouma vir die kersgeskenke geskryf en versier. Al die leeswerk is gedoen, en Rain lees baie trots vir ons uit 'The Secret Unicorn'. Weereens kon ons net na 09:30 met skool begin, en dus kon ons ook uitkom by ons ekstra leeswerkie, vandag 'The care and keeping of you' - 'n soort van 'What all girls should know.' Firn vind dit hiper-gross maar Rain vind dit baie interessant.

Dit is warm en droog en ons smag na reen. Die koeie ly aan hittestres; ons wil nog 'n dak oor die ingangskamp na die stal opsit, maar vir nou is dit net 'n droom. Ons onmiddellike projekte is 'n elektriese hek in die nuwe elektriese heining, en 'n nuwe koeltenk.

Ek probeer om meer tyd in die melkstal deur te bring, en slaag nogal goed op die oomblik, ek hoop ek kan so aanhou. Dit sal maar rof gaan om dit by te bring wanneer die buitemuurse aktiwiteite weer in volle swang is.



Wed, 2 Jan 2008 17:41:16 +0200:Eerste skooldag 2008


Oggendwerkies was net voor 9 vanoggend klaar, en dus kon ons heel vroeg, vir ons, so skuins na 09:30, met skool begin. Ek't 'n blaaskansie na die woeste gejaag met oggendwerkies nodig gehad, dus het Firn eers vir ons gelees, die dogtertjies het hulle Saxon Maths aangepak (Firn is omtrent so 55 lesse voor Rain), ek het begin met 'Voyage of the Dawn Treader', Rain het vir ons gelees, en ons het (hoera, hoera, dit gebeur nogal min) ook uitgekom by lees uit Die Stoutsterte - die storie van die muise wat saam met Jan van Riebeeck se skip Kaap toe geseil het. Die dogtertjies kon glad nie die skepe se name onthou nie, WEL SLEGS die twee verkeerde name wat hulle Pa hulle geleer het, naamlik die 'Wille Maree' en die 'Poenskop'. Dit wys jou nou wat gebeur as pa's inmeng met skool!

Rain het baie gewillig gehelp met middagete (wat ek so 'n paar weke gelede na ons hoofmaal verander het, want dit pas my beter EN dis gesonder)en ek is bra langtand uit in die snikhete son vir 'start of milking'. Die koeie wou veel eerder in die skaduwee staan as inkom stal toe, en ek het my flou gesukkel om hulle in te kry. As ek vanmiddag vir 'n baas gewerk het, en ek het 'n ander werk kon kry (ek is darem 'n verantwoordelike persoon), het ek bedank. Net daar. Natuurlik het gister se sage met 'n werker wat poepdronk (en regtig, mens kan dit nie anders stel nie) opgedaag het vir namiddagtakies regtig nie gehelp nie. Ek en Jon moes gistermiddag al sy werk doen, en nou le die nare vooruitsig van 'n dissiplinere verhoor oor die naweek ook nog voor. Ek't die grootste deel van vanmiddag in die melkstal deurgebring, want ons leer vir Patrick, wat nou 'n maand by ons werk, om te melk. Dis maar 'n senutergende en frustrerende proses, om die minste te se. Die arme Job hop soos 'n squashballetjie in die stal rond om sy en die helfte van Patrick se werk te doen, asook om 'n ogie op Patrick te hou.

Die swemmery gister was verskriklik lekker, al was die water net omtrent tot by my kniee. Die dogtertjies is waterbabies soos hulle pa, en swem tot hulle lippe letterlik persblou is. Om van die gekoekte hare nie te praat nie.


Ek't vir die eerste keer in 'n lang tyd 'n boek van voor tot agter deurgelees (meestal in die bad saans). Kersvader het vir my 'Spud', deur 'n Suid-Afrikaanse skrywer, John van de Ruit, gebring. Ek't gesukkel aan die begin, maar teen die einde het die boek - oor 'n 13-jarige seun se wedervaringe in 'n eksklusiewe Engelse privaatskool - my meer geboei.

Ek kry hierdie bemoedigende woorde, geskryf deur 'n tuisskoolpa, in 'n e-pos:
I'm dedicating this space to the REALLY important stuff like - wiping noses, bottoms, and perpetually syrup-covered counter tops - and moms and dads who give everything they have only to be told by a six-year-old who doesn't even vote yet that, "You don't love me."
You want courage and bravery? Let me tell you about the multitudes of homeschooling mothers who drag themselves out of bed every day (or almost every day) trying to make a difference but most often feeling like big failures.
In fact, if I had to name the person of the year, I'd name YOU. Don't believe for one moment that all the tripe that fills the papers and news channels is what's important; it's not. What you do everyday is not just important: it is the MOST important. The world may not applaud you, but God does - and so do I.